Beslaglegging op Munisipale voertuie

THABAZIMBI – Die Thabazimbi Balju het ‘n plaaslike besigheid hierdie week opdrag gegee om beslag te lê op meer as 20 voertuie wat tans deur die stadsraad gebruik word. Hierdie voertuie sluit onder andere ook die brandweerwa in.
Daar is versoek dat die sleutels vir hierdie voertuie oorhandig word as gevolg van wanbetaling, maar die betrokke voertuigbestuurders het geweier om enige sleutels te oorhandig. Dit het tot gevolg dat die belastingbetaling nou ekstra sal moet opdok vir die addisionele verwyderingskostes (wegsleepdiens) wat aangegaan moet word om hierdie voertuie te skuif.
Die voertuie sal by die betrokke besigheid geberg word tot en met die uitstaande betalings op die voertuie op datum is.
‘n Verteenwoordiger van Kwêvoël is na die Munisipaliteit kantore in Van Der Bijlstraat om meer inligting te kry. Buite die kantoor het ‘n groot groep mense bymekaar gedrom. Toe die persoon foto’s wou neem is sy weggejaag met krete van “tsamaya!”, ten spyte daarvan dat sy gevra het om met iemand te praat.
‘n Sogenaamde verteenwoordiger van die munisipaliteit het haar toe fisies geïntimideer en geskree dat die koerant nie welkom is nie. Ons wag op verdere kommentaar vanaf die munisipaliteit.
Die munisipaliteit het teen druktyd niks aan Kwêvoël gerig as antwoord nie.