Groot rangeerwerf kom by Thabazimbi

Die stippellyn wys die beoogde roete van die spoorlyn na Ermelo asook die moontlike verbinding vanaf Lephalale na Botswana.
Die stippellyn wys die beoogde roete van die spoorlyn na Ermelo asook die moontlike verbinding vanaf Lephalale na Botswana.

Sake Beeld van Maandag 29 September berig dat Transnet op die punt is om die steenkooldraevermoë van sy spoorlyn in die Waterberg van 2 miljoen tot 6 miljoen ton per jaar te verhoog.
Transnet se direkse sal hierdie maand ‘n besluit oor hierdie projek van R5 miljard neem. Die projek is die tweede fase van die spoorlyn uitbreiding van die trajek wat Thabazimbi met Lephalale verbind en behels dat na afloop hiervan drie treine met 100 swaardienswaens per dag kan hanteer teenoor die huidige een. Deel van die voorlegging is om die seksie tussen Thabazimbi en Lephalale te elektrifiseer.
Dit hou groot ontwikkelinge vir Thabazimbi in met ‘n lus van 2,8km naby die dorp waar treine wat in teenoorgestelde rigtings op die enkelspoor loop by mekaar kan verbygaan. Verder behels dit ook ‘n groot nuwe rangeerwerf wat hier gebou gaan word.
Bouwerk kan reeds in Februarie 2015 begin en teen Maart 2016 afgehandel wees, het Ali Motala, hoofbestuurder van projekte in die kantoor van Brian Molefe, Transnet se uitvoerende hoof, die afgelope week gesê.
Grootegelukmyn by Lephalale, wat die Mathimba kragstasie van 14 miljoen ton steenkool per jaar voorsien en wat ook Medupi kragstasie in die toekoms gaan voorsien, lewer ook metallurgiese en verwerkte steenkool maar dit kon nog nooit behoorlik benut word nie.
Exxaro het vroeër vanjaar R5,8 miljard afgeskryf weens sy ysterertsprojek in die Kongo en gaan sy groeiplanne voortaan op die Waterberge toespits. Die lynbeperkings is reeds jare lank die struikelblok vir die ontwikkeling van nog steenkoolmyne in die Waterberg, waar 40% van die land se oorblywende steenkoolreserwes is.
Exxaro produseer ook klein hoeveelhede metallurgiese steenkool, ‘n waardevolle hulpbron, wat op die bestaande lyn uitgevoer word en soms aan binnelandse smelters verskaf word.
Die spoorlyn gaan op die lang termyn opgegradeer word om uiteindelik 27 miljoen ton steenkool uit die Waterberg te hanteer wat deur Mpumalanga na Richardsbaai vervoer sal word. Die uitvoerbaarheidstudie om die spoorlyn vanaf Thabazimbi deur Atlanta en Hammanskraal met Ermelo te verbind waar dit by die bestaande steenkoollyn sal aansluit, is ook reeds gedoen.
Die projekkoste van R5 miljard sluit nie die koste van die bykomende waens om die steenkool van Lephalale tot in Richardsbaai te vervoer vir uitvoer, in nie.
Luidens die berig berei Exxaro hom voor om binne die volgende vyf jaar R16 miljard aan kapitaalprojekte te bestee om sy steenkoolproduksie uit die Waterberg te verhoog.
Suid-Afrika en Botswana is ook met onderhandelinge besig om die spoorlyn tot in Botswana te verleng sodat steenkool uit Botswana deur Richardsbaai uitgevoer kan word.