Eksotiese wild steeds gewild by veiling

THABAZIMBI – Eksotiese wild het steeds goeie pryse behaal tydens die Thabazimbi Wildlife Services se veiling wat Saterdag 27 September by die Thabazimbi Skouterrein aangebied is. Die afslaer was Niel Swart van Vleissentraal Bosveld.
So het ‘n wit blesbok familiegroep van 7 diere teen ‘n gemiddelde prys van R24 714 en ‘n hoogste van R35 000 onder die hamer gekom terwyl ‘n gewone blesbok familiegroep bestaande uit 26 stuks wild verkoop is teen ‘n gemiddeld van R3 138 met ‘n hoogste prys van R3 600.
‘n Goue wildebeesbul met ‘n Goue wildebeeskoei is ten R460 000 elk verkoop terwyl ‘n blouwildebeesfamiliegroep verhandel is teen R5 533 met ‘n hoogste van R5 700. Die beste prys op ‘n blouwildebeesbul was R6 500. Dragtige blouwildebeeskoeie het gegaan teen R41 800 gemiddeld met die hoogste prys van R83 000.
Bosbokke het ook hul man gestaan met ‘n familiegroep van drie wat teen ‘n gemiddelde prys van R24 000 elk verkoop is.
Vyf koedoebulle wat aangebied is, het gemiddeld teen R18 250 met ‘n hoogste prys van R20 000 verkoop. ‘n Koedoe familiegroep van 16 diere is teen gemiddeld R5 719 met ‘n hoogste prys van R6 000 verkoop en ‘n kameelperdgroep van drie is teen ‘n gemiddeld van R15 000 per dier verhandel.
Njala ooie het ook hul prys gehou met R30 000 stuk. Die 148 plus vier klein rooibokooie wat aangebied is, is teen R5 700 stuk verkoop. Twee waterbokbulle wat aangebied is, het onderskeidelik teen R13 500 en R16 000 verhandel.
‘n Rooihartbees familiegroep van 21 diere is teen die gemiddelde prys van R5 171 en hoogste van R5 800 verkoop en die hoogste prys vir ‘n sebra was R5 400.
Die hoogste prys vir ‘n dier wat op die katalogusveiling behaal is, was die R320 000 wat vir ‘n swart rooibokram betaal is.
Die totale omset van die veiling was R5,392 miljoen.