WATER-KRISIS: ‘Dis die ergste in 111 jr

Illustrasie van al die dorpe wat met die water tekort sukkel. Thabazimbi is een van die dorpe.  - Beeld
Illustrasie van al die dorpe wat met die water tekort sukkel. Thabazimbi is een van die dorpe. – Beeld

Soos in Beeld gerapporteer op 25 September het die portefeuljekomitee oor water en sanitasie gister ’n noodvergadering gehou oor die waterkrisis wat inwoners van groot dele van Gauteng en dele van Noordwes en Limpopo die afgelope week ervaar.
Hoewel die watertoevoer na sommige plekke herstel is, is die krane op ander plekke ná langer as ’n week steeds droog. Leon Basson, die DA se adjunkwoordvoerder oor waterwese en sanitasie, het Woensdag gesê dié party eis dat ’n ondersoek “op hoë vlak” gedoen word na die waterkrisis.
“Die minister van waterwese en sanitasie (Nomvula Mokonyane) én die direkteur-generaal (Trevor Balzer) móét ons Donderdag inlig oor wat verkeerd geloop het. Ons wil ook weet wat hul gebeurlikheidsplanne is. So iets mág nooit weer gebeur nie.”
Volgens hom is dit die eerste keer in die geskiedenis van Rand Water se bestaan van 111 jaar dat dié watervoorsiener – glo weens kragonderbrekings en kabeldiefstal – nie sy mandaat kon uitvoer nie. “Ons wil byvoorbeeld weet waarom Rand Water nie noodkragopwekkers het nie,” het Basson gesê.
Justice Mohale, woordvoerder van Rand Water, het Woensdagmiddag gesê hy was nie bewus daarvan dat dié watervoorsiener ooit noodkragopwekkers gehad of gebruik het nie.
Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van waterwese en sanitasie, het gesê daar is beslis geen watertekort nie omdat die Vaaldam, Gauteng se waterbron, 85,4% vol is.
Op 20 September het Joshua Mostosmane van die TLM die volgende berig op Thaba What’s Happening gepos:
“NOTICE: WATER SUPPLY PROBLEM
Please be advised that there is water supply constraints at Vaalkop dam due to high demand. This is affecting Thabazimbi and Moses Kotane Local Municipalities.” Geen uitsluitsel is gegee oor die “constraints” nie.