Thaba Tholo met witwarm pryse

THABAZIMBI – Deurlopend uitsonderlike pryse is behaal tydens Thaba Tholo se sesde produksieveiling, wat op Woensdag 17 September 2014 gehou is.
Zambiese swartwitpense was in groot aanvraag. So is die 5,6 jaar oue 50’’ Zambiese Swartwitpens, Jabu, wat nie tydens die veiling die minimum aanvraagprys gehaal nie, wel gedurende die dag vir R8,5 miljoen verkoop. Die rekord het egter gegaan aan die indrukwekkende 47,25” Wes Zambiese teelbul, Baron, waar die bod op R9.5miljoen, ‘n nuwe rekord, toegestaan is. Twee jong Zambiese dragtige verse is elk verkoop vir R1.4 miljoen en ‘n 30’’ dragtige Zambiese swartwitpens koei met ‘n indrukwekkende bloedlyn is verkoop vir R2.8 miljoen wat ook ‘n nuwe rekord was. Nog rekord veilingsbedrae was die Wes Zambiese swartwitpens koei met kalf wat gegaan het vir R2,2miljoen en twee Wes Zambiese swartwitpens jong bulle is vir R600 000 verkoop.
Die kollig is egter gesteel deur Bontle, ‘n uitsonderlike jong 34.5” dragtige buffelkoei wat ‘n briljante R11.5miljoen rekordbod bereik het.
Njala’s het hul man gestaan en ‘n Jong 29.5” Nyala teelbul is verkoop vir R330 000.
Twee dragtige renoster koeie het R620 000 per stuk behaal.
Twee dragtige Goue Wildebees koeie is elk vir R670 000 verkoop en ‘n dragtige Goue Gemsbokkoei het R410 000 gehaal.
Bosbok ooie het ook vir rekords gesorg en vier is vir R55 000 ‘n stuk verkoop terwyl twee swart rooibok ooie, waarvan swangerskap van swart ram gesertifiseer is, het elk vir R650 000 geprys.
Vyf Rooibok ooie, dragtig van swart ram, het ook vir ‘n rekord gesorg en is verkoop vir R80 000.
Die 6 jarige 46.7” buffelbul, David, het die bod opgejaag tot R13miljoen en Dainty, ‘n jong dragtige 32.2” buffelkoei met verskalf is vir die rekordbedrag van R7,6 miljoen verkoop.
Volgende jaar sal Thaba Tholo se jaarlikse veiling vir die eerste keer oor twee dae strek. Op 18 September sal al die Swartwitpense verkoop word en op 19 September sal die buffels en ander diere opgeveil word.
Altesaam 316 diere is tydens Thaba Tholo se 2014 veiling verkoop. Die totale omset vir die dag was R206 miljoen.

Bosbokooie verkoop vir R 55.000.00 stuk (rekord)
Bosbokooie verkoop vir R 55.000.00 stuk (rekord)