Gewapende roof by Sterns

THABAZIMBI – Die Sterns Juweliers-tak op Thabazimbi was Vrydag 19 September die slagoffer van ‘n gewapende roof.
Die voorval het die oggend omstreeks 10:00 plaasgevind toe ‘n onbekende man die winkel binne gegaan het en hom as ‘n kliënt voorgedoen het terwyl hy die juweliersware besigtig het.
Hy het egter op ‘n latere stadium ‘n vuurwapen uitgehaal en die Sterns werknemer bevel om al die juweliersware en selfone in die sak wat hy saamgedra het te plaas. Hy het ook die werknemer se selfoon gevat.
‘n Saak van Besigheids-roof is geopen en geen arrestasie is tot dusver gemaak nie. Die ondersoek duur voort.
Die berekende waarde van die juweliersware en selfone beloop sowat R150 000.