Bosveld-gemeenskap neem afskeid van bekende boer

Oom Gerhard Young wat Sondag 14 September oorlede is. Hy het sedert sy geboorte in die Northam-Dwaalboom distrik geboer.‘n Huldeblyk word op 23 September om 11:00 by die Hervormde Kerk Northam gehou.
Oom Gerhard Young wat Sondag 14 September oorlede is. Hy het sedert sy geboorte in die Northam-Dwaalboom distrik geboer.‘n Huldeblyk word op 23 September om 11:00 by die Hervormde Kerk Northam gehou.

NORTHAM – Met groot hartseer het die stem van Gerhardus Young (Oupa Gerhard, Oom Gerhard) onverwags stil geword op Sondag 14 September. Oom Gerhard is gebore op 14 Desember 1943 op die plaas Nooitgedaght Limpopo waar hy ook grootgeword het. Hier is sy wortels gegrawe.
Oom Gerhard het baie vinnig in enige iemand se hart gekruip. Met sy grappe en deernis vir sy medemens. Oom Gerhard het geboer met beeste en was in die landbou ook betrokke. Hy was ook baie betrokke by die gemeenskap en die boerevereniging in Northam. So baie staaltjies is oor hom vertel. Nou kan mens verstaan waarom hulle sê dat as ‘n oumens tot sterwe kom, is ‘n biblioteek ook weg.
Sy band met sy kinders en kleinkinders was baie sterk. Hy was baie trots op hulle en het graag foto’s van hulle rondgestuur en vir almal gewys.
Oom Gerhard was baie lief vir die bosveld en die natuur en het graag fotos van die wilde diere, tarentale en voëltjies ook met almal gedeel.Dit was altyd baie lekker om met Oom Gerhard te kon gesels en die wat hom al jare ken, sê hy het ‘n wye algemene kennis gehad en kon oor enige iets gesels en ‘n gesprek met hom was altyd baie leersaam.
Met sy lighartigheid, was hy ook ‘n baie diep mens wat, ‘n opregte pad met sy Skepper geloop het
Dit was ‘n voorreg om iemand soos oom Gerhard te kon ken. Oom sal baie gemis word. Oupa Gerhard laat agter sy broer Zaag Young, Suster Isa van Bruggen, Seun Johan Young, dogter Alta Koekemoer, drie kleinkinders en drie agterkleinkinders. ‘n Huldeblyk word gehou op 23 September om 11:00 by die Hervormde Kerk Northam. Die diens sal waargeneem word deur ds Pedri Van Rooyen.
Vir enige verder navrae kontak asb vir Marietha Young by 082 562 1053 of Alta Koekemoer by 083 770 4488