Lees tot op die einde

Die afgelope paar weke het ek baie bewus van die feit geword dat mense geneig is om net hoofopskrifte of die eerste paragraaf van dit wat in ‘n koerant staan te lees en dadelik met ‘n ellelange repliek te reageer. Lees eerder die hele rubriek en kyk of jy nie dalk iets positiefs daaruit kan kry nie.
Het iemand dalk in dieselfde koerant gesien dat ons Suid-Afrikaanse diamante steeds na hulle Engelse eienaars uitgevoer word waar hulle die winste skep? By Cullinan is ‘n suiwer wit diamant van 232 karaat, onlangs gemyn. Buiten die diamant van 3 106 karaat, wat ook van Cullinan afkomstig is en wat tydens die tydperk wat die Unie van Suid-Afrika onder Britse bewind was, aan die Britse kroon geskenk is. Nege kneuwels wat daaruit gesny is pruik steeds in die Britse Kroon. Dan word die Afrikaner daarvan beskuldig dat hy die swart bevolking besteel het. Die myn by Cullinan is nieteenstaande nuwe eienaars, nog altyd in Britse besit.
Daar is soveel mense wat steeds nie besef dat ons nou in ‘n sekulêre (leesgieriges wat nie weet wat dit beteken nie kan dit gerus in HAT gaan opsoek) staat bly. Dit nieteenstaande die feit dat meer as 80% van die inwoners hulself as volgelinge van ‘n spesifieke godsdiens tydens statistiese opnames aangee maar versuim om te sê dat hulle steeds hul voorvadergeeste aanbid en vir hulle ruimte skep in hul daaglikse doen en late of dat hulle glo dat die hele wêreld deur demone regeer word. Nog ‘n bewys dat mense nie werklik lees wat op die sensusvorm staan nie en ook nie besef dat hulle besig is om twee begrippe totaal met mekaar te verwar nie.
Arme Dawie Roodt is so aangevat deur die onderwysers dat hulle seker sy program nou ook van die TV moet verwyder. Dit is juis die mense wat ander mense moet leer om die hele stuk te lees wat die meeste te kere gaan.
Nêrens het ek enigiets negatiefs bemerk in sy kommentaar oor die onderwysers wat hul werk doen nie. Hy het juis gesê dat hierdie onderwysers te min betaal word. Ongelukkig moet mens in Suid-Afrika na gemiddeldes kyk en die wit gemiddelde maak maar ‘n klein persentasie uit van die res van die bevolking. Hoekom die hewige reaksie van die klein wit gemiddelde in die dagblaaie as dit nie van toepassing is op hulle nie. Kom dit dalk uit hierdie skuldige gewete waarmee ons as Afrikaanssprekende blankes grootgemaak word. Ekself weet nie.
In dieselfde koerant, het jy die artikel van Koos Malan tot op die einde gelees? Daar, waar hy afeindig met: “Omgord jouself met realisme en werp jou kragte in by ‘n goeie burgerlike organisasie. Burgerlike instellings, so het die vermaarde Alexix de Tocqueville byna twee eeue gelede reeds geleer, is die enigste beskutting teen ‘n vervallende verorberstaat (soos dié waarin ons onself nou in Suid-Afrika bevind). As jy Afrikaans is, is dit jou geluk om goeie opsies te hê waarby jy jou kan skaar.”
Ek vra net, lees net verder voordat jy die mure met kaal hande wil uitklouter.

Kommentaar deur Pieter Coetzee – Redakteur: Kwêvoël