Kontrakteur van Thaba-pad sy kontrak kwyt

 

Die Suid-Afrikaanse-padagentskap (Sanral) het na verneem word die kontrak vir die herstel van die pad tussen Bela-Bela en Thabazimbi by die huidige kontrakteur oorgeneem ná maande se gesloer met die herstelwerk.
Die Suid-Afrikaanse-padagentskap (Sanral) het na verneem word die kontrak vir die herstel van die pad tussen Bela-Bela en Thabazimbi by die huidige kontrakteur oorgeneem ná maande se gesloer met die herstelwerk.

Andries van der Heyde

WARMBAD – Die kontrakteur wat deur die Limpopo-padagentskap aangestel is om die eerste 8 km van die pad tussen Bela-Bela en Thabazimbi op te gradeer, is na wat verneem word sy kontrak kwyt.
Volgens Pieter Raath van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF) het hy op Maandag, 25 Augustus, ’n oproep van ’n konsultant ontvang wat by die projek betrokke is. Dié man het glo aan hom gesê die kontrakteurs gaan slegs die eerste 3 km vanaf Bela-Bela voltooi, en dan halt roep met die werk. Die res van die pad sal glo deur die Suid-Afrikaanse-padagentskap (Sanral) oorgeneem word en hulle beoog om sowat 20 km van die pad te herstel, het hy gesê.
Dit volg ná weke se oënskynlike geknoei met die herstelwerk op dié pad. Die pad moes meer as een keer opgebreek en wéér voorberei word vir die teerlaag, nadat die kontrakteur en ingenieur glo nie saamgestem het oor hoe die werk gedoen moet word nie. Intussen het veral sakelui wat op dié pad ondernemings het, aan Die Pos gesê dat die gesloer met die bouwerk hulle op hul knieë dwing.
Die Pos het die pad weer op Maandag, 25 Augustus besoek. Daar was geen werkers in sig nie, behalwe dié wat die padblokkades beheer het. Aluwani Mulaudzi, TN Molefe-ingenieur, het by navraag gesê die subkontrakteur het op Dinsdag, 26 Augustus, begin om die pad te teer.
Hy het gesê baie tyd is vermors nadat daar besluit is om die pad oor te bou en hulle is besig om hul “raamwerk in orde te kry”.
“Ons sal min of meer binne ’n week klaar wees met ’n deel van die werk. Die eerste 3 km behoort voorlopig op Vrydag, 3 Oktober, voltooi wees, maar ons hoop vir die beste,” het hy gesê. Intussen wag hulle op verdere instruksies, het hy gesê.
– LIN Newspaper/Die Pos