Helpende Hand loods veldtog om hulpbehoewende wit huishoudings te help

Die niewinsgewende organisasie, Solidariteit Helpende Hand, het vandeesweek ’n veldtog van stapel gestuur om R2 miljoen vir arm wit huishoudings wat deur statistiek oorgesien word in te samel. As deel van die veldtog sal Helpende Hand se verskeie vorme van hulp aan behoeftige Afrikaners aansienlik uitgebrei word om te help om hul armoede te verlig en moontlik te verbreek.
Helpende Hand veroordeel ten sterkste die statistikus-generaal, Pali Lehohla, se uitspraak gister dat daar landswyd te min armoede in wit huishoudings is om dit by statistieke oor hulpbehoewende huishoudings in te reken.
“Om wit armoede op hierdie manier oor die hoof te sien omdat daar geen statistieke oor wit armoede beskikbaar is nie, dui bloot op die staat se onwilligheid om wit armoede te erken en aandag daaraan te gee,” sê dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand.
“Geen statistieke beteken beslis nie geen armoede nie. Helpende Hand help jaarliks derduisende armes, van babas tot bejaardes, en verlig, verbreek en voorkom armoede in gemeenskappe dwarsoor die land. Ons het ook oor die afgelope twee jaar ongeveer 2 300 ton kos, klere en goedere deur ons landswye skenkingskantore versprei.”
Brink verduidelik dat wit armoedesyfers weens ’n wye verskeidenheid faktore baie moeilik is om te bepaal. Tans is geen betroubare en omvattende navorsing oor wit armoede beskikbaar nie. Boonop is arm wit huisgesinne dikwels nie gebind tot gevestigde informele nedersettings nie, maar bly dikwels in houthuisies agter in erwe, in karavaanparke, verlate woonstelblokke of by familie of vriende, wat dit byna onmoontlik maak om hierdie mense te tel. Soms lei arm huisgesinne ook ’n nomadiese bestaan omdat hulle agter die moontlikheid van werk of hulp aantrek.
“Ons sal nie toelaat dat wit armes oor die hoof gesien word bloot omdat geen statistieke beskikbaar is nie,” sê Brink. “Helpende Hand sien wel hierdie mense raak.”
Neem só aan Helpende Hand se Ons Mense-veldtog deel:
SMS die woord “Onsmense” na 38969 om R10 vir die Ons Mense-veldtog te skenk.
Laat weet jou vriende van die veldtog en moedig hulle aan om ook ’n SMS te stuur.
“Like” Helpende Hand se Facebook-blad en deel ons inskrywings oor die veldtog met jou vriende.
Twiet oor die veldtog en gebruik #onsmense.