Koninkryk gaan die Demokrasie vervang

Diegene wat President Zuma as die swakste president ooit beskou, het beslis hul gronde hiervoor. Geskiedenis, veral Afrika se geskiedenis, wys dat jy nie ‘n goeie regeerder hoef te wees indien jy die koning van ‘n land is nie..
As Koning moet jy ‘n paleis hê, ‘n weermag met generaals om jou en jou belange te beskerm en raadgewers om jou van raad te voorsien aangesien ‘n Koning nie noodwendig slim hoef te wees nie. ‘n Regsbank het jy nie nodig nie want jy is die wet, Enige opstand teen jou regime sal met mag onderdruk word. Daarby hoef jy nie toestemming te kry van enige persoon of instansie nie om die belastinggeld, wat deur die enigste funksionele departement in jou regering, SARS uit die onderdane gesuig word, te spandeer soos jy wil. Al hierdie vereistes is reeds in plek in Suid-Afrika.
Die paleis is nou nie juis iets uit die verlede soos Versailles of Buckingham Palace nie, maar eerder ‘n “High-Tech” tipiese Afrika modderhut met vuurvaste vensters, ‘n ondergrondse versterkte skuiling en natuurlik, soos van enige goeie koning verwag word, ‘n beeskraal om sy rykdom aan sy besoekers te wys.
Soos in die ou tradisionele statte het elkeen van sy talle vrouens hul eie wonings, “Hi-Tech” natuurlik, daar was darem ‘n paar goeie dinge wat die beskaafde wêreld na Afrika gebring het.
Daar is ongelukkig net een groot swakpunt met al hierdie vrese vir sy lewe, vuurvaste vensters en ondergrondse skuiling ingesluit. Al die geboue het grasdakke.
Ek het nog nie gehoor van ‘n gepanserde grasdak nie en die miljoene wat spandeer is aan die opgradering ter wille van die veiligheid van die Koning, skuus, president, maak geen sin as dit net ‘n pyl en boog soos vanuit die oertydperk, met ‘n bondel brandende materiaal vooraan die pyl sal neem om al die grasdakke aan die brand te steek nie. ‘n Eenvoudige weerligstraal kan dit ook doen. Wie gaan dan die skuld kry? Die een tot wie se wederkoms die ANC gaan regeer?
Daar is so ‘n klein probleempie wat Zuma eers ontslae van sal moet raak en dis die Suid-Afrikaanse Parlement. Gelukkig vir hom, nie dat dit so bedoel is nie, het hy hier die volle samewerking van die EFF wat sonder hulle wete of dat dit hul bedoeling is, dit vir hom makliker maak om die parlement te neutraliseer, deur sittings te ontwrig en die Parlement te verhoed om sy normale funksie te verrig. Dan is daar ook ‘n Openbare Beskermer in die vorm van Adv Thuli Madonsela, wat haar nie eens deur afbrekende verwysings gemik op haar persoon nie, steeds op haar regte staan om die waarheid te bekom en, deur die orde van die parlement, verslaggewing aan die kiesers moet verskaf.
Sonder ‘n Parlement kan Zuma homself as opperheerser uitroep, soos wat Hitler in Nazi Duitsland gedoen het en homself as Keiser of Koning verklaar. Sy ander magstrukture is mos reeds in plek. (Die land se skatkis ook!).