Bielies van die BOEREJOL trek saam op Leeupoort

Lieb Bester, bekende akteur en kunstenaar en Pieter Bodenstein, Voorsitter Boeremusiekgilde Leeupoort-tak .
Lieb Bester, bekende akteur en kunstenaar en Pieter Bodenstein, Voorsitter Boeremusiekgilde Leeupoort-tak .

LEEUPOORT – As iemand goed is in wat hy doen, sê ons in ons mooi taal, hy is ‘n BIELIE. So heet ‘n program op ‘n radiostasie wat handel oor boeremusiek musikante. Op 5-6 September 2014 trek daar ‘n hele aantal van hierdie musikante wat
BIELIES is, saam op Leeupoort.
Dit is nou Meesters soos Ollie Viljoen, Dries Laas, Paul Roodt, Theo Erasmus, Johan van Vuuren, Willie Mynhardt, Danie Grey en Hannes Schoeman wat almal reeds bevestig het dat hulle aan die jaarlikse Boeremusiekfees te Leeupoort gaan deelneem. Onderhandelinge met ander BIELIES is nog aan die gang en sal later bevestig word. Die bekende akteur en tans ‘n uitmuntende musikant, Lieb Bester, gaan ook
optree.
Nie minder as 3 skoolorkeste gaan die Boermusiekliefhebbers vermaak. 15 Ikone van Boermusiek, almal ouer as 70 jaar, se name gaan tydens die fees op die monument aangebring word. Met 4 van die voorste trekklavierspelers wat aan die fees gaan deelneem, het die bestuur besluit om te kyk hoeveel trekklavierspelers hier kan saamtrek om twee nommertjies saam te speel. Ons nooi dus die trekklavierspelers uit om mee te doen aan hierdie poging om ‘n rekord saam te stel.
Om die boeremusiekliefhebbers gerus te stel dat boeremusiek nog lank gaan bestaan, gaan daar vyf konsertinaspelertjies tussen die ouderdom van 10 en 18 jaar wees, en dit maak die BIELIES baie opgewonde. Vir navrae skakel Pieter Bodenstein 082 410 1655. Vir kampeerplek, skakel Spokie Krause 014 735 0970 of 078 836 9149.