Rykdom en menseregteskendings

Die een ding wat Afrika en die Arabiese state deel is die hoë vlakke van ongelykheid en menseregskendings. Die een ding wat hulle nie deel nie is rykdom.
Suid-Afrika met sy groot bevolking en bevolkingsaanwas wat handuit ruk, vind dit maar moeilik om die stuk koek in nog kleiner stukkies te deel nadat die regering en plaaslike regerings daarmee klaar is.
In ‘n besprekingsdokument deur Jonothan Ostry van die Internasionale Monetêre Fonds, het hy tot die slotsom gekom dat hoe groter die ongelykheid in ‘n gemeenskap, hoe meer wend die regeerders hul tot herverdeling van rykdom, terwyl in gemeenskappe met ‘n laer vlak van ongelykheid, groei die ekonomie vinniger en is dit ook meer volhoubaar.
Gedurende die 20 jaar van demokrasie kon die regerende party dit nie regkry om die vlak van ongelykheid te verlaag nie, in teendeel, dit het verhoog. Die een rede hiervoor is dat die staatsdiens en plaaslike regerings totaal oorlaai is met onbevoegde werkers wat net daar sit, hoë salarisse verdien, terwyl dienslewering in duie gestort het en in party gevalle heeltemal verdwyn het.
Die feit dat die meeste ekonomiese bedrywe in die hande van witmense is, het niks hiermee te doen nie. Alle witmense is nie deur apartheid bevoordeel nie, en talle moes na die ANC se oorname 20 jaar gelede hulself tot entrepreneurskap wend nadat hulle, as gevolg van die regering se beleid van Swart Ekonomiese Bemagtiging en regstellende aksie, hulself sonder werk gevind het.
Hierteenoor het die regering welsynstoelaes ingebring ter wille van die talle swart vroue wat sonder enige vaardighede kinders by verskeie mans gehad het en waarvan die vaders nie ouerskap wil aanvaar en toelaes self betaal nie.
Daarby is alle opleidingsentrums gesluit en het die regering met uitkomsgerigte onderwys gehoop om ‘n nuwe geslag daar te stel wat hulle eie besighede kon begin sodra hulle die skool sou verlaat. ‘n Beleid wat jare reeds totaal in duie gestort het.
Wat hulle nagelaat het is ‘n jong geslag wat geen verantwoordelikheid aanvaar nie en nog meer druk op die regering gaan uitvoer vir groter welsynstoelaes.
Voeg hierby ‘n nuwe ministerie vir Kleinsake. Beslis nie om kleinsake te help ontwikkel om meer werk te skep nie, maar om te kyk hoe hierdie enigste sektor wat ekonomies aktief en lewensvatbaar is, nog verder gemelk kan word.
Met ‘n regering wat homself onbevoeg verwys het om werk te skep, gaan dit net van die kleinsakesektor afhang om die rol te vervul en op daardie manier aan die massas bewys dat daar slegs ‘n toekoms is vir mense wat wil werk.