Gr R-leerders se belange seëvier

Die burgerregte-organisasie AfriForum het verneem dat dié graad R-leerders wat hierdie jaar 7 jaar oud word en deur die Onderwysdepartement verplig is om met die aanvang van die nuwe kwartaal oor te skuif na gr 1 voorlopig in gr R mag aanbly.
AfriForum was bereid om ouers by te staan met regshulp sou die situasie nie positief opgelos word nie. “Ons is baie bly dat die situasie so verloop het en dat die belange van die leerders uiteindelik beskerm is,” het Carien Bloem, hoof van AfriForum se onderwysveldtogte gesê.
Ouers wat wel aansoek gedoen het dat hulle kinders in gr R mag aanbly, het skriftelike toestemming van die Gautengse hoof van onderwys, mnr. Boy Ngobeni, ontvang. Ouers en onderwysers het egter geen terugvoer rakende die saak van hul distrikshoof ontvang nie.
“Ons raai ouers en onderwysers aan om in die toekoms betyds uit te vind wat die prosedure behels indien ‘n arbeidsterapeut of sielkundige aanbeveel dat ‘n kind nie skoolgereed is nie en ‘n jaar langer in gr R moet bly,” het Bloem gesê. “Sodoende kan daar betyds om vrystelling aansoek gedoen word en verhoed word dat die kinders ontwrig word.”