Agricultural

Rooibokke maak jag op pryse

THABAZIMBI – Tydens Thaba Tholo se veiling wat Woensdag 12 Maart aangebied is, was dit ‘n rooibokram teen R26 000 wat gesorg het vir ‘n nuwe Suid-Afrikaanse rekordprys. Ander volwasse rooibokramme is teen ‘n gemiddelde prys van R8 667 van die hand gesit terwyl rooibokooie se gemiddelde prys die Suid-Afrikaanse rekord van R5 500 geëwenaar het.Die totale omset op die hokveiling was R4 184 600 en ‘n totaal van 184 stuks wild is van die hand gesit. Die katalogusveiling het ‘n omset van R4 166 000 opgelewer en ‘n totaal van 950 stuks wild is van die hand gesit wat die totale omset op R8 350 600 te staan gebring het.

Die afslaers, Brandon Leer en Niel Swart van Vleissentraal Bosveld, het gesê dat die sukses van hierdie veiling toegeskryf kan word aan die gehalte van diere wat aangebied is, wat van uitstaande gehalte en genetika was. Kopers vanoor die lengte en breedte van Suid-Afrika het die veiling bygewoon.

Van die kleiner wild wat aangebied was, was twee vroulike duikers wat elk vir R4750 van die hand gesit is. Die ses vroulike steenbokkies is teen ‘n gemiddeld van R5 917 met die hoogste prys van R7 000 verkoop.Twee Goue Gemsbok koeie is teen R250 000 elk van die hand gesit terwyl een van die twee jong Goue Gemsbokbulle teen die hoogste prys van R280 000 verkoop is.

Die vier koedoebulle wat aangebied is het ‘n gemiddelde prys van R19 500 behaal met ‘n hoogste prys van R32 000. Volwasse Njalas (13) is teen ‘n gemiddelde prys van R15 538 en ‘n hoogste prys van R38 000 verkoop. Die elf jong manlike swartwitpense wat ook tydens die hokveiling aangebied is het ‘n gemiddelde prys van R28 182 behaal teenoor die volwasse swartwitpensbulle se gemiddelde prys van R29 750. ‘n Jong swartwitpensbul het egter die hoogste prys van R70 000 behaal teenoor die beste vir ‘n volwasse dier van R46 000.

‘n Volwasse waterbokbul is vir R15 000 (R4 500 vir die vroulike diere) verkoop en twee jong witrenosterbulle is teen ‘n prys van R200 000 elk van die hand gesit. Tydens die katalogusveiling (vroulike diere) was van die hoogste pryse behaal vir gemsbokke – R11 000, kameelperde – R17 000, sebras (R4 600) terwyl Blouwildebeeste vir die hoogste prys van R5 500 verkoop is.

12-Thaba Tholo gemsbok

Foto links:

Gemsbokke het goeie pryse behaal by die Thaba Tholo wildveiling wat Woensdag 12 Maart aangebied is met ‘n omset van meer as R8.35 miljoen.