SWARTKLIP – Jaarliks pak duisende mense van regoor die land die Comrades Marathon en die ander een vir fietsryers, die Argus fietswedren aan. Vir party is dit ‘n uitdaging om dit in die beste tyd klaar te maak en te probeer verbeter oop jou vorige tyd.
Verlede jaar het Hester soos gewoonlik die Argus gaan ry met Maggie wat naby die eindpunt gewag het. Toe Hester klaarmaak, toe sê Maggie: “Volgende jaar ry ek saam met jou.” Hester het dit beslis nie regtig ernstig opgeneem nie, want dis nogal ‘n “tall order” om op 49 vir die eerste keer die Argus te wil ry. En sy het nie eens ‘n fiets nie.
Maar so het sy aangehou sy wil dit doen. Hester het toe haar bergfiets en leen ‘n padfiets vir haarself. En so begin hulle oefen. Dit gaan maar moeilik want die pad tussen Swartklip en Northam is lewensgevaarlik. Meeste naweke was hulle ook nie tuis nie en sonder ‘n fietsrak wat met groot omslagtighede gepaard gegaan het om die fietse saam te vat.
So skryf hulle toe in vir die Cansa Lost City Cycle Challenge op 17 Augustus 2013 en besluit om net die 66km afstand te trap. Maggie was amper dood. Maar hulle hou aan met oefen. In November van 2013 pak hulle die 94.7 fietswedren aan. Weereens voltooi hulle dit ook, maar ook maar net binne die toegelate tyd van 6 ure.
Desembermaand besluit hulle om die fietse saam te vat met vakansie en elke dag trap Maggie die 6km lange bult uit tussen Grootbrakrivier en George. Stadig maar seker begin Hester moed skep vir die Argus. Toe volg ‘n enkelbesering en die weer versleg by die dag. Maar al die reëlings is klaar getref om Kaap toe te gaan.
Maggie kry ‘n “trainer” geleen en die fiets word staangemaak in die sitkamer op die rollers. Sieldodend, maar dit kan nou nie hoër of laer nie, oefen moet daar geoefen word. Hoogs onvoorbereid, volgens Hester, tree hulle Sondag 9 Maart aan die onderpunt van Adderleystraat aan. Die projeksie is gedoen en besluit vooraf dat klaarmaak die mikpunt is, niks anders nie. Hulle ry presies soos wat daar voorgeskryf word ten einde binne 6 en ‘n halwe uur klaar te maak. Dit beteken dat jy sekere bakens binne sekere gegewe tye moet bereik. Soms was hulle ‘n bietjie voor skedule en soms ‘n bietjie agter, dan pas hulle dit maar aan soos wat hulle trap.
Genadiglik het hulle nie een enkele pap wiel gekry nie. Maar die wind is ‘n faktor. 83 km/h deur die hele wedren. Maar die laaste 40km darem so min of meer van agter af, met geweldige rukwinde van die kant af.
So is hulle oor Wynberg Hill en later Smitswinkel. Toe lê Chappies voor, hulle is oor hom en anderkant af. Toe is dit die gevreesde Suikerbossie. Hulle is oor hom ook. Ongeskonde en ongedeerd. Na presies 6 uur en 29 minute en 43 sekondes ry Hester en Maggie oor die eindstreep. Hoe sê hulle? Moeg maar tevrede.
Hierdie is nie ‘n berig oor wie in Thabazimbi die vinnigste Argus gery het nie. Inteendeel. Hierdie is om aan almal wat oor so iets droom te se: Jy kan dit doen. As jy jou kop daarop sit en dit graag genoeg wil doen, dan kan jy.
Maggie en Hester Hoffmann by die beginstreep van die Argus fietswedren en weer by die eindstreep nadat hulle hul medaljes ontvang het.


