Noodlottige ongeluk afgeweer

THABAZIMBI – ‘n Noodlottige ongeluk is Dinsdaglaatmiddag by die T-aansluiting van die Lephalale/Warmbadpad weg in Thabazimbi afgeweer. Die bestuurder van ‘n groot trok het net voor die aansluiting regs oor die pad in ‘n voor in gejaag toe hy waarskynlik besef het dat die trok geen remvermoë meer het nie.

Die ongeluk het omstreeks 17:30 op Dinsdag 11 Maart plaasgevind, op ‘n tydstip wanneer hierdie aansluiting redelik besig is met verkeer vanaf die myne en die nywerheidsgebied.

Dit is die eerste trok vir 2014 wat by hierdie aansluiting ‘n ongeluk gemaak het. In die vorige ongeluk, verlede jaar, is twee insittendes van ‘n groot trok dood toe die trok bo-op die treinspoor, wat parallel met Warmbadweg loop, beland het.

Die trok, wat skrootmetaal vervoer het, se remme het vermoedelik ingegee. Volgens getuies wat dit gehoor en gesien het, het die trokdrywer na die regterkant toe uitgeswaai toe hy seker besef het dat die remme nie meer werk nie en het sodoende in die watersloot langs die pad tot stilstand gekom. Die trok se sleepwa het na die linkerkant toe geval en so al die skrootmetaal op die grond langsaan uitgestort. Die kajuit is total verwoes.

Wonderbaarlik het die trokdrywer en sy passasier nie ernstige beserings opgedoen nie, maar is wel met ‘n ambulans weggeneem.

Die nooddienste van Thabazimbi soos die polisie, brandweer, ambulans, verkeer en rampbestuur was binne 20 minute op die toneel.

Opruimingswerk aan die gang om die skroot, wat deur die ongeluksvoertuig vervoer is, weg te ry.
Opruimingswerk aan die gang om die skroot, wat deur die ongeluksvoertuig vervoer is, weg te ry.