Sport

Laerskool Thabazimbi presteerders by Provinsiaal atletiek

THABAZIMBI – Vier atlete van Laerskool Thabazimbi wat verlede Saterdag aan die Provinsiale Atletiekbyeenkoms in Polokwane deelgeneem het, het goed presteer deur drie eerste-, een tweede- en een derdeplek te behaal.

Eersteplekke het gegaan aan Miné Lategan Do/13 wat tydens die skool se Interhuisbyeenkoms die 40-jare lange rekord van Hanlie Stopforth verbeter het met ‘n hoogte van 1,50m. Tydens die Provinsiale byeenkoms het sy haar eie beste opgestoot na 1,63m en daarmee ook ‘n nuwe provinsiale rekord daargestel. Devoux Deysel, So/13 het met sy spiesgooi die pragtige afstand van 43m gegooi en hierdie poging laat hom kwalifiseer vir die Nasionale byeenkoms. Laastens het Juan’rich du Preez, So/11 gewigstoot, ook ‘n eersteplek behaal met sy persoonlike beste van 11,27m.

Tshimiswa Nemavhola, So/13, het ‘n tweedeplek met verspring behaal en ‘n derdeplek in die 200m. Die skool wag nog om te hoor of hy vir sy verspringpoging ook vir die Nasionale byeenkoms kwalifiseer.

10-LS Atletiek (1)

Foto

Laerskool Thabazimbi se atlete wat tydens die Limpopo Provinsiale Atletiekbyeenkoms in Polokwane baie goed presteer het. Hulle is vlnr: Devoux Deysel, Miné Lategan, Tshimiswa Nemavhola en Juan’rich du Preez.