Community

Skoenboksprojek bring vreugde

THABAZIMBI – Kwêvoël het aan die einde van 2013 berig oor die Betlehem skoenboksprojek vir minderbevoorregte kinders in Thabazimbi. In totaal is ongeveer 400 skoenbokse deur Liezie en haar span ingesamel en voor Kersfees tydens ‘n jolige geleentheid aan die kinders uitgedeel. Alhoewel daar meer kinders as skoenbokse was, het geeneen van die kinders met leë hande daar weggestap nie. Die kinders wat nie ‘n pakkie ontvang het nie, het ‘n bal gekry, maar hulle het steeds die dag vreeslik geniet en daar was heerlike broodjies en lekkernye.

In elke skoendoos was daar koekies, seep, ‘n waslap, tandepasta, tandeborsel, lekkergoed, koeldrank, speelgoed asook ‘n sopbakkie en balle.

Alhoewel die skoendoosprojek net vir Kersfees geld, het hierdie span steeds hulp nodig, want hulle gee elke Vrydag vir ongeveer 500 kinders kos, koeldrank en vir hulle lees ‘n stukkie uit die Bybel.

Hulle benodig ernstig helpers om die kinders te bedien en te ondersteun op maatskaplike gebied. Die winter kruip ook vinnig nader en daar is ‘n dringende behoefte aan skoene en klere vir die kinders.

As enige iemand wil betrokke raak by hierdie projek, skakel die organiseerders indien u kerk of selgroep wil deelneem. Liezie en Matilda kan gekontak word op selnommer 082 893 4208 en 082 876 8671.

Lekker broodjies word uitgedeel vir die 500 minder bevoorregte kinders.
Lekker broodjies word uitgedeel vir die 500 minder bevoorregte kinders.
Uiteindelik word die geskenkpakkies uitgedeel. Die eindproduk van die skoenboks projek vir 2013, met seep, waslap, tandepasta, tandeborsel, lekkergoed, koeldrank en speeldingetjie in.
Uiteindelik word die geskenkpakkies uitgedeel. Die eindproduk van die skoenboks projek vir 2013, met seep, waslap, tandepasta, tandeborsel, lekkergoed, koeldrank en speeldingetjie in.