Segetog na Groblersdal

GROBLERSDAL – Die stryd om bekers tydens die afgelope Interhoër was duidelik tussen Hoërskole Frikkie Meyer van Thabazimbi en Piet Potgieter van Potgietersrus. Met slegs vier punte verskil op die groottotaal en drie punte vir die sangtotaal moes Hoërskool Frikkie Meyer, met ‘n groottotaal van 574, die knie buig uiteindelik voor Hoërskool Piet Potgieter wat met 578 punte die algehele wenner was op die atletiekveld.

Die skool wat gevolg het in die derdeplek op groottotaal was die gasheerskool, Ben Viljoen met 506 punte. In die vierdeplek was dit Hoërskole Ellisras (357 punte) gevolg deur Hoërskool Warmbad (338 punte), Hoërskool Nylstroom (330 punte) en Hoërskool Hans Strydom (309 punte). Hoërskool Warmbad eindig derde met die sangbeker met 291 punte.

Frikkie Meyer se seunsspanne het uitgeblink deur beide die Junior en Senior Seuns-bekers asook die Seuns Groottotaal en Seuns-Aflosbekers huis toe te bring.

Die seuns wat besondere prestasies behaal het deur eersteplekke in meer as een item te behaal was, Marco Myburgh So/14 (400m, 200m, 100m en aflos), William Tulare So/14 (100m hekkies, 300m hekkies, 800m en aflos), Armand Davies So/19 (100m, 200m en verspring), Ludwig Pieterse So/19 (gewigstoot en werpskyf) en ZW van Deventer So/17 (spiesgooi en gewigstoot).

Ander eersteplekke is behaal deur Amanda Lategan (Do/15 werpskyf), Tatiana Rall (Do/16 100m), Michelle van der Sandt (Do/16 gewigstoot), Leane du Plooy (Do/17 verspring), Anthony Brandt (So/14 verspring), Michael Payne (So/15 hoogspring), Brendon Vermaak (So/15 gewigstoot), Richardt Vink (So/16 verspring), Pieter Malapane (So/19 spiesgooi) en Johan Harmze (So/19 spiesgooi).

Alhoewel die weer gehou het en dit nie gereën het nie, was die veld nat as gevolg van reën wat voor die byeenkoms oor die dorp uitgesak het. Die binnebaan was te nat om te gebruik en dit was veral die hekkie-naelopers wat gesukkel het. Baie hekkies het geval deurdat atlete nie goeie vastrapplek op die nat veld kon vind om oor die hekkies te kom nie.

Die spanleiers van HFM saam met die eersteplekwenners tydens die afgelope Interhoër by die Vlam van Trots van HFM wat Maandagoggend tydens skoolopening aangesteek is.
Die spanleiers van HFM saam met die eersteplekwenners tydens die afgelope Interhoër by die Vlam van Trots van HFM wat Maandagoggend tydens skoolopening aangesteek is.