Tragiese ongeluk eis twee

THABAZIMBI – ‘n Boorling van Thabazimbi, Sanet Wessels, dogter van Leendert en Kotie Joubert van Thabazimbi en haar eggenoot, Corrie, is noodlottig beseer in ‘n ongeluk terwyl hulle met hul vyfjarige dogtertjie oppad was om vir oupa en ouma te kom kuier.

Die ongeluk het Vrydagaand, 10 Januarie omstreeks 20:00, sowat 20km buite Thabazimbi op die Brits-pad plaasgevind.

Corrie en Sanet Wessels se Corsa bakkie het teen ‘n stilstaande vragmotor, wat ‘n U-draai wou maak, gebots. Corrie en Sanet was in ‘n uiters kritieke toestand toe die paramedici op die toneel opgedaag het. ‘n Ooggetuie het aan Kwêvoël gesê dat hulle enkele minute voor die ongeluk by die vragmotor, waarvoor húlle net betyds kon uitswaai, verby gery het. Hulle het omgedraai en teruggery om ‘n ongeluk te probeer voorkom aangesien die vragmotorbestuurder nagelaat het om noodligte en –aanwysings op die pad aan te bring. Hulle was ongelukkig te laat aangesien die Wesselse se bakkie intussen met die vragmotor gebots het. Nooddienste is onmiddellik in kennis gestel.

Die gesin is na die provinsiale hospitaal in Thabazimbi gehaas, waarna Sanet en later Corrie, op Saterdagoggend na Pietersburg oorgeplaas is. Sanet het Saterdagmiddag aan haar veelvuldige beserings gesterf en Corrie het Sondagoggend aan sy beserings beswyk.

Hul dogter, Kylie, het minimale beserings opgedoen, in aggenome die omvang van die ongeluk. Sy is behandel vir ‘n gebreekte sleutelbeen, ontwrigte knieskuif en mondbeserings. Nadat sy ontslaan is, sterk sy tans by haar oupa Leendert en ouma Kotie Joubert aan. Sy sal in Corrie se suster, Cindy, se sorg geplaas word wanneer sy ten volle herstel het. Sanet is gebore in Thabazimbi. Sy het in 1999 haar skoolloopbaan by Hoërskool Frikkie Meyer voltooi en het Tandheelkunde-stoelassistent studeer aan die Tshwane University of Technology (TUT). Op 23 April 2005 is sy met Corrie in die huwelik bevestig en Kylie is uit die huwelik gebore.

‘n Gesamentlike roudiens vind Woensdag, 22 Januarie 2014, wanneer Sanet haar 33ste verjaarsdag sou vier, vanuit die AGS Kerk Elarduspark om 12:00 plaas. Pastoor Steve Ferreira sal die diens waarneem.

Die familie bedank almal wat hulle deur hierdie tyd besoek en ondersteun het, die hele gemeenskap vir hul vertroosting, Henk Havenga en al die mediese personeel vir die goeie sorg en die predikante wat hulle in hierdie tyd besoek en onderskraag het.

Sanet laat haar ouers, Leendert en Kotie, dogter Kylie, broer Leendert en suster Janine agter.

Sanet sal onthou word as ‘n intelligente mens met ‘n fyn waarnemingsvermoë. Haar liefde vir die natuur en diere spruit uit haar kinderjare toe dié laatlam gedurig saam met haar pa plaas toe gery het. Corrie en Sanet het ‘n passie vir musiek gehad en hulle het gedurig musiek gemaak by verskeie geleenthede. Corrie het klankbane gespeel vir onder andere die gospelsangeres Ronel Erasmus. Hy was ‘n veelsydige man en niks het vir sy hande verkeerd gestaan nie. Die egpaar se diepe geloof in hul Skepper en die liefde wat hulle uitgestraal het vir hul medemens, het ‘n verskil in baie mense se lewens gemaak.

03-Sanet en Corrie

Corrie en Sanet Wessels op hul troudag. Dié egpaar is ‘n dag na mekaar aan hul beserings oorlede nadat hul voertuig op 10 Januarie met ‘n vragmotor gebots het.

 

 

 

 

 

 

03-Bakkie ongeluk

Die Wesselse se Corsa bakkie wat in die ongeluk betrokke was.

 

 

 

 

 

03-Joubert gesin

Leendert en Kotie Joubert saam met Kylie (5) wat tans by haar grootouers aansterk.