Sussies albei “Hoofmeisies”

THABAZIMBI – Twee sussies maak vanjaar bosveld-geskiedenis deur albei as hoofmeisie van hul onderskeie skole aangewys te word.

Ilke (Gr 12) en Miné (Gr 7) Lategan is verlede jaar, kort na mekaar, as hoofdogters van onderskeidelik Hoërskool Frikkie Meyer en Laerskool Thabazimbi aangewys.

“Sover as dit aan ons bekend is, was daar nog nooit so ‘n voorval nie, ons wens die twee dogters en hul ouers baie sterkte toe vir ‘n besige jaar,” het ‘n woordvoerder van Laerskool Thabazimbi aan Kwêvoël gesê.

Die Lategans woon die afgelope vier jaar in Thabazimbi. Volgens Marisa Lategan, die trotse ma van die twee sussies, is hulle oorweldig deur hierdie groot voorreg. Hulle is ook egter gevul deur ‘n opregte dankbaarheid dat Ilke en Miné, wat albei ewe sterk leierskapeienskappe tuis toon, hierdie reis met mekaar kan deel.

Ilke is in Thabazimbi gebore, waarna die gesin na Centurion verhuis het. Pieter en Marisa Lategan het ná etlike jare in Centurion met hul gesin na Thabazimbi teruggekeer. Hul wortels is reeds vir die afgelope vier jaar diep in die bosveld geanker.

Terwyl Miné as ‘n linkerbrein, sportiewe diereliefhebber beskryf word, is Ilke die kreatiewe siel wat mal is oor lees, fietsry en kosmaak. Miné en Ilke het reeds Maandag met hul pligte by die skool begin en heers daar nou ‘n gees van opgewondenheid in die Lategan-huishouding vir die jaar wat voorlê.

03-Hoofmeisies

Die twee sussies, Miné en Ilke Lategan, is onderskeidelik hoofmeisie van Laerskool Thabazimbi en Hoërskool Frikkie Meyer.