Microsoft waarsku teen telefoniese skelmstreke
THABAZIMBI – Vernuftige kuberkriminele het ‘n nuwe skelmstreek tot die fynste besonderhede vervolmaak deur telefonies kontak te maak met ‘n teiken om sodoende waardevolle persoonlike inligting te kan bekom.
Hierdie vorm van internetbedrog kombineer ‘n verskeidenheid ander algemene skelmstreke, van vals sekuriteitsagteware tot uitvissingsbedrog.
Kuberkriminele skakel ‘n slagoffer en beweer dat hy/sy van Microsoft is. Hulle bied dan hulp aan om jou rekenaar se probleme op te los. Wanneer die kuberkriminele eers die slagoffer se vertroue gewen het, kan hulle een of meer van die volgende doen:
Die slagoffer ompraat om kwaadaardige sagteware op hul rekenaar te installeer, per afstand beheer neem van die slagoffer se rekenaar om die verstellings te verander om sodoende die rekenaar kwesbaar te laat, vra kredietkaart inligting aan sodat ‘n rekening aan die slagoffer gestuur kan word vir die vals dienste.
Microsoft het op hul webwerf aangekondig dat hulle nie ongevraagde telefoonoproepe sal maak om jou met jou rekenaar te help nie.
Indien jy so ‘n oproep ontvang, sit neer. As jy dink dat jy ‘n slagoffer van bedrog kan wees, rapporteer dit. Vir meer inligting, google Microsoft se “Security Tips and Talks.