General

Grinpal- en voorafbetaaldestelsel moenie verwar word nie

THABAZIMBI – Die DA het ‘n informele vergadering rakende die SMART elektrisiteitsmeters op Woensdag 15 Januarie in die kantoor van die Superintendent: Elektrisiteit, Jacob Khuabo gehou.

Tans bestaan daar ‘n groot verwarring oor die nuwe voorafbetaalde meters aangesien die inwoners nie vooraf ingelig is rondom die werking daarvan en die aankoop van koopkragbewyse nie.

Die nuwe meter wys die kW/u wat aangekoop is en die ou meters wys die randwaarde van die elektrisiteit.

Met die konvensionele meters word die lesing geneem en die rekeninge word aan die einde van die maand uitgereik. Die nuwe meters toon dadelik die gebruik per uur, dag en maand. Die Bloktariewe is deur NERSA ingestel om mense aan te moedig om elektrisiteit te bespaar.

Die nuwe stelsel herstel op die laaste dag van elke maand. Indien u dus elektrisiteit aan die begin van die maand koop, word dit teen die laer tarief gedoen.

Die glyskaal werk as volg: Voorafbetaalde tariewe: Tarief Blok 1 (0-50 kWh) is 70c per kWh, Blok 2 (51 – 350 kWh) is 87c per kWh, Blok 3 (351 – 600 kWh) is 116.63c per kWh en Blok 4 (>600 kWh) is 138c per kWh. Konvensionele krag beloop: Tarief Blok 1 (0-50 kWh) is 67.52c per kWh, Blok 2 (51 – 350 kWh) is 85.40c, Blok 3 (351 – 600 kWh) is 112.35c per kWh, Blok 4 (>600 kWh) is 132.68c per kWh en die basiese heffing per maand is R113.14.

Installasies vir die loodsprojek van die voorafbetaalde meters is reeds voltooi in Uitbreiding 5 en 6. Uitbreiding 1 en Thabazimbi volg binnekort.

Kuabo wou nie kommentaar lewer oor die tenderproses wat moontlik nie korrek gevolg is nie. Die raadslede probeer steeds uitvind hoe die bepaalde kontrakteur volgens die aanstellingsbeleid gedoen is.

Die tegniese departement is opgelei om met die stelsel te werk, skakel dus die noodnommer indien probleme ondervind word, 083 703 2804.

Nog ‘n probleem wat ondervind word is dat wanneer twee of meer koopbewyse direk na mekaar ingelees word, die stelsel ‘n foutboodskap vertoon. Die munisipaliteit het onderneem om met die kontrakteur daaroor te kommunikeer.