Fratsongeluk eis oud-Thabazimbiër

RUSTENBURG – ‘n Frats vierwielmotorfietsongeluk in die duineveld van Namibië het gelei tot die onverwagte afsterwe van ‘n oud Thabazimbiër, Cassie Aucamp (37).

Cassie, wat in 1994 aan Hoërskool Frikkie Meyer gematrikuleer het, is die seun van ds Cassie en Ina Aucamp, voormalige leraarspaar van die Gereformeerde Kerk Thabazimbi en tans leraar van die Gereformeerde Kerk Bergsig/Andeon.

Die ongeluk het omstreeks 17:30 op 31 Desember gebeur, terwyl die gesin met vakansie by hul vakansiehuis op Hentiesbaai was, nadat hy ‘n duin uitgery en op die kruin geval het. Cassie is opslag gedood.

Die Aucamp-gesin het besluit om die Dinsdagmiddag Suid te gaan ry sodat die kinders teenoor Langstrand met hul vierwielmotorfietse op die duine kon ry. Nadat die vierwielmotorfietsryers teruggekeer het na die basis, het die avontuurlustige Cassie gesê hy gaan met sy KTM 300-veldfiets in die duine ry en “sal nie lank weg wees nie.”

Cassie se eggenote, Nerine en hul twee kinders, Cas (4) en Nerise (2), het op daardie stadium by die basis gewag op sy terugkeer.

Cassie het ‘n kamera aan sy valhelm gedra, met ‘n presiese weergawe van wat tot die noodlottige ongeluk gelei het. Die kamera het duidelik gewys hoe hy die een duin ná die ander gery het. ‘n Hoë duin by die Langstrand, tussen Walvisbaai en Swakopmund, het hy aangedurf omdat dit solied gelyk het, maar hy kon nie verder sien nie en het tot die fratsongeluk gelei.

‘n Ambulans het by die basis waar Nerine gewag het ingery en hulle meegedeel dat iemand op ‘n vierwielmotorfiets geval het. Nerine het soontoe gery om te gaan kyk.

Die ongeluk het sowat 3km van die kusweg plaasgevind. Die familie in Suid-Afrika is eers 20:00 oor die fratsongeluk ingelig.

Cassie sal onthou word as ‘n avontuurlustige persoon en iemand wat altyd tyd gehad het vir prêt en hy het altyd ‘n uitdaging gesoek en daarvan gehou om mense te verras. Hy en sy gesin was in Rustenburg woonagtig waar hy vir ‘n konstruksiemaatskappy gewerk het.

Sy roudiens was op Vrydag, 3 Januarie in die Gereformeerde Kerk, Rustenburg-Wes. Hy word oorleef deur sy vrou en kinders, sy ouers, ds Cassie en Ina Aucamp asook drie broers en ‘n suster.

Boodskappe op die sosiale netwerk, facebook, het van oraloor ingestroom om die familie te ondersteun.

03-Klein Cas Aucamp

‘n Vroeëre foto van Cassie saam met sy vrou Nerine en kinders, klein Cassie en Nerise.