6 in arres ná bejaarde-moord

THABAZIMBI – Christiaan Theunissen, oftewel Oom Chrisjan, soos hy in die volksmond bekend gestaan het, is op Versoeningsdag op sy plaas Springbokvlei, net ’n paar kilometer van Thabazimbi, deur plaasaanvallers doodgeskiet.

Kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, het gesê dat vyf mense op Maandagaand, 16 Desember 2013 op die bejaarde se huis toegesak, hom in sy slaapkamer oorval en doodgeskiet het.

Die mans het glo geld gesoek. Toe hulle dit nie kry nie, het hulle ’n jaggeweer uit die kluis en ’n selfoon gevat.

’n Plaaswerker wat die volgende oggend onraad vermoed het, het ’n buurman van Theunissen in kennis gestel. Die buurman het op Theunissen se lyk afgekom en die polisie ontbied, het Otto gesê.

Twee verdagtes, Oupa Moroka (48), ‘n plaaswerker, en Frans Motaung (33) het in Northam-landdroshof in verband met die moord verskyn. Die SAPD het die afgelope drie weke dag en nag gewerk om al die verdagtes aan te keer en het reeds ses verdagtes gearresteer.

Oom Chrisjan, ‘n bekende kluisenaar van die distrik, was nie getroud nie, het geen kinders gehad nie, maar was familiebesit en baie geliefd in die distrik. Hy het alleen deur die lewe gegaan en ook alleen met sy beeste geboer.

“Hy het nou ook deel geword van die statistiek van plaasmoorde in hierdie land,” het Machiel Reynecke (TLU) aan Kwêvoël gesê.

Die gemeenskap bedank graag die SAPD, onder leiding van Kol. Sakkie Lourens en STTU (Specialised Tactical Tracking Unit), onder leiding van Pottie Potgieter, vir hulle toegewydheid en harde werk deur die feesdae. Daar is beslag gelê op ongelisensieerde vuurwapens, ‘n voertuig en oom Christiaan se selfoon.

Ds. Gustav Opperman, ’n predikant in dié gebied en ook ’n vryskutfotograaf, het in ’n fotoprojek, Herinneringe aan ’n Bosveldplaas, ’n reeks foto’s van die “eksentrieke” Theunissen geneem. Die meeste foto’s wys hoe die boer op sy plaas werk.

Ds Gustav Opperman het ook oom Christiaan se begrafnisdiens op 21 Desember 2013 , vanuit Gereformeerde Kerk Matlabas waargeneem. Hy is begrawe in die familie kerkhof op hul plaas Springbokvlei, aan die voetenent van sy moeder, die enigste vrou wat hy ooit liefgehad het.

03-Chrisjan Theunissen

Christiaan Theunissen (88) is op sy plaas Springbokvlei op 16 Desember 2013 doodgeskiet. Foto: Ds Gustav Opperman.