10 uit 11 vir Johan

THABAZIMBI – Johan van Deventer (18), een van die ses top uitblinkers in die land wat 10 onderskeidings kon behaal het, het sy welslae te danke aan geloof en nederigheid.

Johan, voormalige hoofseun van Neos Christian School, het in tien van sy elf vakke onderskeidings behaal in die nasionale matriekeindeksamen. Hy het onderskeidings in die volgende vakke verwerf: Afrikaans Eerste Taal, English First Language, Mathematics, Life Orientation, Accounting, Business Studies, Computer Application Technology, Engineering Graphics and Design, Religion Studies en Mathematics 3.

Johan het sy laerskoolloopbaan by Laerskool Dwaalboom voltooi en het sy hoërskoolloopbaan by Neos Christian School – ‘n onafhanklike christenskool te Koedoeskop voltooi. Johan was ook hoofseun van hierdie besondere skool se koshuis.

Wat Johan se prestasie meer merkwaardig maak, is die feit dat hy ‘n Afrikaanssprekende student is wat al sy vakke in Engels geskryf het.

Nie net is hy ‘n akademiese ster nie, maar het hy uitsonderlike prestasies op die sportveld behaal. Johan is nie net ‘n uithaler sewesrugby- en krieketspeler nie, maar het ook SA-kleure in atletiek en tafeltennis behaal.

Johan is vir 2014 vir ‘n B.Com-graad by Noordwes Universiteit (Potchefstroomkampus) ingeskryf en wil hom graag as geoktrooieerde rekenmeester bekwaam.

Sy ouers, Pieter en Elnita, boer op Dwaalboom en is oorstelp van vreugde en baie trots op hul oudste kind se prestasie.

03-NEOS Johan Voorblad

Johan van Deventer van Neos Christian School, het in tien van sy elf vakke onderskeidings behaal en is as een van die ses top uitblinkers in die land aangewys.