Oud onderwyseres oorlede

THABAZIMBI – ‘n Baie geliefde, oud onderwyseres van Laerskool Thabazimbi, Jolande Booysen (53), is op 10 Mei aan kanker oorlede. Kanker is reeds in 1994 by haar gediagnoseer, maar sy kon nog voortgaan met skoolhou tot dit weer in 1999 toegeslaan het. Dit het haar verplig om op vroeë pensioen te gaan.

Ten spyte daarvan het sy haar volle gewig by die werksaamhede van die NG Kerk ingegooi waar sy onder andere die leiding geneem het by die hospitaalbesoekplan. Sy was ook ‘n steunpilaar by die kankervereniging en sy het menige kankerpasiënte besoek en onderskraag.
In Mei 2004 is ‘n gewas aan die kleinbrein ontdek en van toe af het Jolande stadig maar seker agteruit gegaan tot behandeling in Maart vanjaar gestaak is. Jolande en Manie (haar man) het in Desember 2002 Dwaalboom toe verhuis, maar moes as gevolg van die droogte hulle plaas verkoop en het toe ‘n plaas buite Vrede in die Vrystaat gekoop. Daar het Jolande haar laaste maande deurgebring waar sy op Saterdag 7 Mei Magaliesburg toe vervoer is en gebly het tot haar dood op 10 Mei. Die begrafnis was op Vrydag 13 Mei uit die Hervormde Kerk Magaliesburg.
Jolande word oorleef deur haar man, twee seuns, Jaco en Riaan, twee skoondogters en twee kleinkinders.