Huweliksklokke op die tradisionele manier
MARAKELE – Wanneer ‘n bruidspaar noem dat hulle op die “tradisionele” manier gaan trou, verskyn beelde van ‘n wit rok, konfetti en ‘n voertuig wat blikkies agterna sleep dadelik voor die geestesoog.
Maar “tradisioneel” vir Hendrik en Melodie van Zyl, was soos die voorvaders dit in die draai van die vorige eeu gedoen het: kaalvoet, khaki-drag en met ‘n voortrekkerkappie op die kop. Dié paartjie het besluit om op Saterdag 30 November hul huweliksbevestiging, in volle voortrekkerdrag, by Marakele se uitkykpunt te hou.
Die gaste, ook uitgevat in hul beste voortrekkerkleed, het die geleentheid terdeë geniet. Pastore Billy Pringle en Stephen Enslin het die diens bo-op die berg waargeneem. Sipo en Zulu van Marakele Nasionale Park, ook hul eie kultuur se tradisionele drag, het die gaste tot bo-op die berg vergesel.
Ná die huwelikseremonie het ‘n ossewa troukoek op die pasgetroudes gewag. Hulle bedank graag Thaba Superspar vir die spyseniering, Petro van der Merwe van Petro’s School of Art, vir die skildery van die mooi ossewa en Ouma Tensie, Ronel en Michell vir die neem van die foto’s. Handy Hendrik, soos hy bekend staan, bedank almal vir die ondersteuning die afgelope jaar. Die paartjie vestig hulle in Thabazimbi.
Hendrik en Melodie van Zyl by Marakele Nasionale Park se uitkykpunt, waar hulle in die huwelik bevestig is. Fotograaf: Michell Loubser.