Thabazimbi knoei met elektrisiteitsmeters
THABAZIMBI – Die burgerregte-organisasie AfriForum het bevind dat daar onreëlmatighede was met die implementering van die nuwe elektrisiteitsmeterstelsel van die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit en het in ‘n brief aan die munisipaliteit versoek dat dit so spoedig moontlik reggestel word.
“Die twee grootste probleme met die implementering van hierdie stelsel is dat die munisipaliteit ’n hoër tarief vra as wat deur die Nasionale Energiereguleerder, NERSA, goedgekeur is en dat die korrekte tenderprosedures nie gevolg is nie. Die kontrak is eenvoudig direk aan die betrokke maatskappy toegeken. Die munisipaliteit oortree dus nie net die nasionale wetgewing nie, maar ook hul eie beleid,” het Morné Mostert, AfriForum se organiseerder vir Limpopo gesê.
AfriForum het ’n skrywe aan die munisipale bestuurder gerig om vas te stel hoekom daar nie aan die wet voldoen is nie en redes te verkry vir die optrede.
“Die gemeenskap wil antwoorde by die munisipaliteit kry,” het Johan Barkenhuizen, voorsitter van AfriForum se Thabazimbi-tak gesê.
AfriForum beskou die verontagsaming van die wetgewing in ’n ernstige lig en is van mening dat dit selfs kan lei tot bedrogklagtes.