Ons lesers skryf:
Ek reageer graag op die persverklaring wat op 28 November 2013 uitgereik is deur die munisipale bestuurder van die Thabazimbi plaaslike munisipaliteit. Die persverklaring spruit uit die afgelope GOP-vergadering, gehou op 26 November en kan gelees word op die webblad van die munisipaliteit (www.thabazimbi.gov.za)
Alles in die persverklaring is korrek tot en met die eerste sin van die derde paragraaf. Sommige van die probleme en uitdagings wat genoem word in die res van die paragraaf is aangespreek, maar vele meer is óf uitstaande, óf nie naby die sogenaamde “gevorderde stadium van voltooiing” nie.
Nadat die munisipale bestuurder sy verslag gelewer het rakende probleme wat aangevoer is op die GOP-vergadering van 9 April, vroeër vanjaar, het hy die geleentheid gebied vir ‘n rondte vrae vanuit die publiek. Daarna het mnr. Gert Snyman, voorsitter van die Belastingbetalersvereniging, hom klomp redes verskaf hoekom die GOP-vergadering nie op die korrekte wyse plaasvind nie. Ten tye van die behandeling van die eerste vraag van die antwoordsessie het die munisipale bestuurder ‘n gemeenskapslid beveel om nie die vergadering met ‘n videokamera af te neem nie. Hy het dit duidelik gemaak dat hy die vergadering sal stop, totdat die persoon ophou om die verrigtinge af te neem. Die persoon was egter al langer as ‘n halfuur reeds besig met die opname, sonder dat hy gestop is. Die gemeenskapslede het geen probleem gehad met die video-opname nie, aangesien die persoon nie die vergadering ontwrig het nie.
In die persverklaring word niks genoem van die video-opname nie en voer hy aan dat ” ‘n gedeelte van die gemeenskapslede die vergadering verlaat het, vir redes wat net hulle sal weet.” Om die waarheid te sê het die oorgrootte meerderheid van die teenwoordiges die vergaderlokaal verlaat. ‘n Handjievol inwoners, die enigste teenwoordige ANC-raadslid en die res van die bestuurders het in die biblioteeksaal agtergebly. Hulle het sowat ‘n kwartier nadat die vergadering gestop is, weer voortgegaan met die vergadering, voordat hulle tien minute daarna die vergadering beëindig het.
Die hele wyse hoe hierdie vergadering deur die munisipale bestuurder gelei is, laat baie gevaarligte flikker, veral as in oënskou geneem word op watter manier hy daarna sy persverklaring verwoord het. Die burgemeester, speaker en hoof finansiële bestuurder was nie teenwoordig nie, aangesien hulle by ‘n SALGA-konferensie was.
Die GOP-vergadering is uiters belangrik en die verrigtinge kon baie beter hanteer word. Die vraag bly staan hoekom hy geweier het dat ‘n video-opname van ‘n openbare vergadering gemaak kan word. Verder het hy in sy hoedanigheid as munisipale bestuurder opgetree as programleier en voorsitter en sonder die wyksraadslid met die vergadering voortgegaan.
Rdl. Franco Loots