Community

Laerskool Thabazimbi groet ‘n besonderse Juffrou

THABAZIMBI – Laerskool Thabazimbi neem vandag, Vrydag 6 Desember 2013 afskeid van ‘n kosbare en geliefde onderwyseres, me Rita Volschenk, wanneer sy uit die onderwys uittree.

Nie net het hierdie juffrou soveel vir Laerskool Thabazimbi beteken nie, maar ook vir die menige leerders wat deur haar vaardige hande gegaan het. Sy was die yster van die rekenaarsentrum vir die afgelope dekade en was ook vir etlike jare aan die stuur van Laerskool Thabazimbi se kultuur. Die tweejaarlikse kunswedstryde asook konserte en puik produksies soos onder andere Lion King Blyspel is onder Rita se talentvolle leiding, met groot sukses, aangebied.

Rita het haar Onderwysdiploma in 1970 met Spraak en Drama as Spesialiseringsrigting aan Normal Kollege Pretoria behaal. Haar eerste onderwyspos was by Laerskool Steenbokpan, waarna sy by Laerskool Wespark te Pretoria, na haar huwelik, aansluit. Sy het voortdurend gestreef om op hoogte te bly met die nuutste inligting en tegnologie en behaal na twee jaar ‘n verdere diploma in Wiskunde en Natuurwetenskap aan OKSA in 1993.

Sy verhuis na Ellisras waar sy tussen 1976 en 1983 aan Hoërskool en Laerskool Ellisras verbonde was. Met die afsterwe van haar man, ontvang sy ‘n oorplasing na Laerskool Thabazimbi, waar sy ‘n jaar skoolgehou het voordat sy na Stellenbosch verhuis het. Daar was sy werksaam as navorser by die Universiteit se Wingerd- en Wynkunde Departement.

Vanaf Maart 1986 is sy terug in die Bosveld en hou skool by Laerskool Vanwykskraal. Sy trou met Vollie Volschenk in 1988 en vanaf Januarie 1989 is sy permanent by Laerskool Thabazimbi. Haar vakgebied is Wetenskap, later Wiskunde en in 2000 begin sy met die Rekenaarsentrum. Rita was in die jare negentig ook die korfbal- en tennisorganiseerder en is van toe af ook die hooforganiseerder: kultuur waar sy die Eisteddfods reël.

Gedurende 2003 doen sy nog ‘n verdere diploma in Rekenaargesteunde Onderwys. Die Universiteit van Pretoria beloon haar met ‘n meriete sertifikaat vir hierdie verdere Diploma. Sy behaal ook ‘n ICDL sertifikaat (International Computer Driving Licence) in 2003 en in 2005 ontvang sy ‘n sertifikaat vir Rekenaartegnologie.

Vir die afgelope 24 jaar by Laerskool Thabazimbi behaal sy drie Meriete-belonings vir bogemiddelde werkprestasie.

As Wiskunde- en Wetenskap- en later vanaf 2003 as Rekenaaronderwyseres het sy baie kinderlewens verryk met liefde en kennis vir bogenoemde vakke.

Op die buitekurrikulêre gebied was Rita die moeder van die Drama-afdeling en behaal uitsonderlike prestasies met haar leerlinge. Menige drama-leerling van Rita is vandag bekende akteurs en drama-afrigters. Rita kon met woord en daad leerders inspireer en motiveer om hoë hoogtes te bereik.

Vandag ken almal in Thabazimbi die vrou agter die grootprojek ‘die Kunstegrot’. Haar liefde vir toneel, drama en die kunste sal voortaan nog meer gestalte vind wanneer sy vanaf 2014 voltyds haar aandag gaan gee aan die Super KunsteGrot.

Laerskool Thabazimbi gun dit vir haar en sê baie dankie vir jare se harde en onbaatsugtige diens. “Ons wens haar voorspoed toe met die rustiger tyd wat sy en oom Vollie betree,” het mnr Koos Venter, hoof van Laerskool Thabazimbi haar toegewens.

“Vanaf Februarie 2014 gaan die KunsteGrot ‘n groot kultuursentrum word. ‘n Groot Eisteddfod word beplan vir die skole in die omgewing”, het Rita aan Kwêvoël gesê.

49-Rita

Rita Volschenk tree af as leerkrag van Laerskool Thabazimbi. Sy sal voortaan al haar aandag aan die Super KunsteGrot skenk.