Community

Kersparty by Laerskool

ROOIBERG – ‘n Uitsonderlike aangename byeenkoms van besondere waarde is verlede Vrydag, 29 November, by die Thaba Kibidu Primary School op Rooiberg aangebied.

Die hele skool is na ‘n Kersparty genooi. Hierdie was ‘n besondere uitreik om kinders uit ‘n verarmde gebied, vir ‘n kort rukkie van hul omstandighede te laat vergeet.

Dit is duidelik gestel deur die koördineerder, mnr. Philip Nel, dat die dag die boodskap van Kersfees moet uitdra, dit is; die geboorte van Christus ons Verlosser en Saligmaker. Ook dat geskenke en welwillendheid ‘n uitvloeisel van Jesus se voorbeeld is en ons ingesteldheid om liefde te betoon aan ons naaste.

Die skool het pragtig gereageer en gewyde liedere, ‘n voorstelling van die geboorte toneel en ander optredes met ‘n godsdienstige ondertoon aangebied om die gehoor te vergas.

Ongeveer 300 kinders van Graad R tot Graad 7 is verras en getrakteer met geskenke vir elkeen, met sy of haar naam daarop, aangebied deur Santa Shoebox Organisation en Barlowworld.

Daarna is almal getrakteer op heerlike worsbroodjies, koeldrank en ysies, aangebied deur Oumaria Stichting en bedien deur die Rooiberg Dameswerkgroep.

Die opgewondenheid was groot en die organisasie, om so ‘n groot groep binne ‘n halfuur te bedien, het bygedra tot ‘n aangename en opgewekte kindergenot. Die ouers en leerkragte het groot dankbaarheid en waardering uitgespreek teenoor die donateurs.

49-Kers DSCF1315

Santa Shoebox groep donateurs.