Geloftefees te Leeupoort
LEEUPOORT – “175 jaar gelede het daar in Suid-Afrika ‘n wonderwerk gebeur. ‘n Wonderwerk wat beskou word as ‘n antwoord op baie ernstige gebede en ‘n gelofte wat aan God gemaak is,” So het Leeupoort Geloftefeeskomitee in ‘n persverklaring wat aan Kwêvoël uitgereik is, gesê.
“Hierdie wonderwerk is die slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838. Op daardie dag het 470 voortrekkers die aanval van ten minste 10000 zoeloes afgeslaan en die oorwinning behaal.”
Vanjaar op 16 Desember 2013, bied die Geloftefeeskomitee aan die gemeenskap die geleentheid om die gelofte af te lê en te luister wat presies daardie dag gebeur het.
Ds Lourens Aucamp, ‘n baie bekende predikant, radio omroeper asook skrywer, lewer die Geloftepreek.
Daarna gaan volwassenes en kinders luister na hierdie aangrypende geskiedenis van die slag van Bloedrivier, soos vertel deur ‘n jong man, Ian Cameron van die bekende organisasie, Afriforum.
Onlangs het ‘n groep mense in 4×4 voertuie, die roete wat Piet Retief in 1838 vanaf sy plaas in die Oos-Kaap, gevolg tot by Bloedrivier in Natal. ‘n Huidige jong voortrekker, Chris Oelschig, was bevoorreg om hierdie tog mee te maak en kom vertel ook sy storie.
Na die verrigtinge nooi hul die feesgangers om hul piekniekmandjies en kinders te bring vir ‘n gratis waatlemoenfees en swem. Koffie, tee en koeldrank sal ook beskikbaar wees.
Kontak Stoffel Bester by 082 823 7652 of Pieter Bodenstein by 082 410 1655 vir navrae.