Hollanders skenk groot
ROOIBERG – Groot opgewondenheid het Maandag 28 Oktober by die Thaba Kibidu Primary School te Rooiberg geheers toe ‘n weldoener klere vir heelwat skoliere uitgedeel het.
Die dame met die hart van goud is Ria Scheyndal van Holland. Sy en haar eggenoot, Wim, woon ses maande van die jaar in Rooiberg en die ander helfte in Holland. Gedurende haar tye in Holland, versamel sy klere, artikels en fondse, wat sy dan tydens haar verblyf in Suid-Afrika aan behoeftige kinders en senior burgers skenk.
Ria is voorsitster van “Stichting Oumaria”. Sy doen ook handwerk wat sy op vlooimarkte verkoop vir addisionele fondse. Veral haar handgemaakte kaartjies is baie gesog en van uitstaande gehalte.
Ria versoek belangstellendes om klere, speelgoed, balonne en kosprodukte, aan haar organisasie te skenk, vir verspreiding tussen skole, behoeftiges en kleuters, veral rondom Rooiberg.
Ria het ook reeds ses rolstoele saamgebring en aan gestremdes geskenk. Haar vriendin, Debora van de Eude het vir hierdie halfjaar vanaf Holland saamgekom om vir Ria hulp te verleen.
Verdere liefdadigheids-uitreike vir 2013 is in die pyplyn. Kontak Ria by 014 734 1962 of 071 501 8266. Besoek die webblad by www.oumaria.nl.
Ria Scheyndal (links) en Debora van de Eude (regs) deel klere en kosprodukte aan die behoeftige kinders van Laerskool Thaba Kibidu te Rooiberg uit.