Week 47 – 22 November 2013
Kommentaar deur die redakteur, Pieter Coetzee:
Die lang skoolvakansie is voor die deur. Na die aanvanklike opgewondenheid om niks te doen, laat te slaap en geen huiswerk te hê nie, gaan honderde van hierdie kinders binnekort die strate invaar op soek na opwinding om van die verveeldheid van niksdoen te ontsnap.
Ongelukkig gaan dit gewoonlik gepaard met vandalisme. Wat is lekkerder as om sonder toesig saam met jou maats dag en nag in beheer van die strate te wees en te doen net wat jy wil, ongeag of jy iemand anders skade berokken of nie. Soggens is die grootmense by die werk of besig met huishoudelike take en saans is hulle maar te bly om nie by die kinders te bly kerm om hul huiswerk te doen en vroeg in die bed te wees nie.
Maar, weet jy as ouer waar jou kind is en wat hy doen terwyl hy daardie tye nie by die huis is nie. Hierdie is by uitstek die tyd om die familie-eenheid weer op te bou deur konstruktiewe aandag aan die kinders te verleen.
Kinders moet leer hoe die grootmenswêreld werk. Daar is elke dag verpligtinge wat nagekom moet word. Daar is tyd vir rustig wees. Daar is tyd vir speel. Tyd is ‘n kosbare komoditeit wat reg aangewend moet word. Ouers het hier ‘n rol wat hulle effektief moet vertolk. Doen dinge sover jy kan saam met die kinders. Jy wil tog nie hê dat iemand van twyfelagtige agtergrond hier die leiding moet neem nie. Beoefen geduld, wees positief en dink tien keer voordat jy negatief reageer op ‘n voorstel of ‘n eenvoudige versoek wat met bietjie min moeite tog binne jou bereik is.
Nie almal kan met vakansie weggaan nie. In elk geval is almal se vakansies deesdae tot ‘n week of wat kortgeknip as gevolg van die ekonomiese verval van die land. Dit gee nog baie dae wat sinvol gevul moet word voordat die skole weereens hul deure oopmaak volgende jaar.
Die grootste uitdaging wat elke skolier aan hom/haarself kan stel is om in hierdie tyd ‘n nuwe vaardigheid aan te leer. Een van hulle is om geduldig te wees en nie ma of pa verder die harnas in te jag met ‘n onderlinge bakleiery met jou boetie of sussie omdat hulle net so gefrustreerd is met die dae van niksdoen.
Probeer om van die kletskamers van die sosiale media af weg te bly en leer wat is dit om werklik sosiaal met ander mense te verkeer. Kuier saam met jou maats, en dit beteken nie julle sit in dieselfde vertrek, elk besig met mixit, of wat ookal nie. Hoekom met ander mense, wat jy eintlik nie juis goed ken nie, te klets en bereid is om jou diepste geheime aan bekend te maak het in die meeste gevalle nadelige gevolge waar jy die seerste kry. Gesels eerder met jou maats oor wat julle in die lewe wil bereik, wat julle eendag wil doen. Bou lugkastele. Begin hieroor droom want onthou, net jy kan jou drome laat bewaarheid word. Tussendeur is daar nog baie tyd vir CD’s luister en DVD’s kyk.
Breek bietjie weg van die playstations en gebruik die internet net om iets sinvols te kry om jou mee besig te hou. Die ouer geslag het niks hiervan gehad nie. Tog was hulle nie verveeld nie want hulle het geweet hoe om hulself besig te hou. Leer weer om jou verbeelding te gebruik met speletjies met jou maats. Wat het geword van telefoontjie, donkie, blikaspaai en wegkruipertjie vir die jongspan.
Leer sommer intussen ‘n vaardigheid aan. Weet jy hoe om ‘n knoop aan te werk of hoe om ‘n koek te bak? Daar gaan reënerige dae wees, bak saam met jou maats in jou ma se kombuis pannekoek en leer om dit in die lug om te draai.
As jy dit nie nou kan doen nie gaan jy as volwassene ook maar ‘n saai lewe hê met geen sosiale vaardighede nie en boonop met ‘n streep kinders wat jy self nie weet wat om gedurende ‘n skoolvakansie mee te doen nie. Seks is beslis nie ‘n vakansiespeletjie nie.
