Community

Omskakeling van elektriese meters in huishoudings na voorafbetaalde meters

THABAZIMBI – Die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit het op 12 November kennisgewings in Thabazimbi gesirkuleer om inwoners in te lig in verband met die geïntegreerde ontwikkelingsplan-riglyn waartydens die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit ‘n besluit ten opsigte van voorafbetaalde elektriese meters geneem het.

Gedurende ‘n vorige deelnameproses in Wyk 2, Thabazimbi, het die gemeenskap ingestem dat plaaslike elektriese kontrakteurs in samewerking met die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit, toestemming het om vir die koste van die inwoner ‘n voorafbetaalde elektriese meter te installeer, welke installasie sal korrespondeer met die munisipaliteit se stelsel. Die administrasie van die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit het na die wetlike deelnemende proses (GOP) ‘n kontrak met ‘n kontrakteursgroep buite Thabazimbi ten opsigte van die voorafbetaalde elektriese meters beding.

Gedurende die GOP proses, het die plaaslike kontrakteur dit baie duidelik gestel dat sodanige installasie, wat koste betref, tussen die verbruiker en die kontrakteur uitgesorteer word en dan ook die aanvaarbare meter- en installasiekoste genoem. Daar sou dus geen verdere finansiële implikasie vir die verbruiker of die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit wees nie. Die kontrak wat nou met ‘n buitekontrakteur aangegaan is, het skynbaar finansiële implikasies vir die verbruiker sowel as die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit.

Hierdie inligting word nou dringend deur Chris Barkhuizen van die Thabazimbi Sakekamer aangevra, dit sal ook in die Kwêvoël gepubliseer word. “Ek glo dat dit raadsaam sal wees om eers die finansiële implikasies van hierdie kontrakteursgroep, wat na mening nie in terme van munisipale wetgewing aangestel is nie, te verstaan. Daar het ook die afgelope paar jaar soortgelyke aanstellings, wat tans ondersoek word, plaasgevind.” Het Chris aan Kwêvoël gesê.

Hy rig dus ‘n dringende versoek dat die betalende verbruikers van Thabazimbi Uitbreiding 3, 4 en 5 (die sogenaamde loodsprojek vir die nuwe voorafbetaalde meters) vir die korrekte en volledige inligting wag alvorens die meters op hulle afgeforseer word.

Chris rig ‘n ernstige versoek op al die belastingbetalende inwoners van Wyk 2 om op 26 November 2013 om 17:30 in die Biblioteeksaal in Vierdelaan die GOP vergadering by te woon.