Sluit aan by Thabazimbi Sakekamer – Opkomende Sakekamer van die Jaar
THABAZIMBI – Die Thabazimbi Sakekamer is onlangs deur die Nasionale Bestuur van die Afrikaanse Handelsinstituut as die Opkomende Sakekamer van die Jaar aangewys.
Geaffilieërde sakekamers wat minder as twee jaar oud is het in die kategorie meegeding. Die volgende kriteria is in ag geneem tydens die beoordeling: Bestuur en administrasie – Hieronder het bywoning van vergaderings, media blootstelling, lidmaatskapsgetalle en groei ‘n rol gespeel. Sakekamer Lededienste – Kommunikasie aan lede, inligtingstukke, Fokus areas, verteenwoordiging in plaaslike strukture, voordeel wat die sakesektor uit aksies deur die sakekamer verkry het, gebruik van elektroniese media om lede op hoogte van werksaamhede te hou, erkenning aan lede en sosiale verantwoordelikheidsprojekte was hier beoordeel. Sakekameraktiwiteite en verbreding van invloedsfeer in u gemeenskap – Entrepreneursopleiding, inisiatiewe om opleiding en werksgeleenthede te skep, mentorskap en bestuurslede se aksies binne die gemeenskap en plaaslike owerheidstrukture was hier ter sprake.
‘n Motivering moes ook aan die beoordelaarspaneel voorgelê word oor hoekom die betrokke sakekamer voel dat hulle die erkenning verdien. Thabazimbi se motivering het as volg gelees.
“Die Thabazimbi Sakekamer het in minder as ‘n jaar van dormante organisasie tot erkende rolspeler onder plaaslike strukture ontwikkel. As opkomende Sakekamer was ons doel om in jaar een ‘n goeie grondslag te lê wat oor 5-10 jaar lewensvatbare mylpale sou teweegbring. Die grondslag is gesetel in vier duidelike prioriteite wat na vele insette, inligting en voorstelle deur die meule gesit is om ons beskikbare tyd en hulpbronne maksimaal te kan aanwend. Die prioriteite is: Ontwikkel Toerisme as ‘n addisionele prioriteit ekonomiese sektor vir die omgewing om die afhanklikheid van die mynbousektor te verminder; Verseker voldoende munisipale infrastruktuurontwikkeling in Northam as groei-node in die Thabazimbi-distrik; Fokus op projekte om werkskepping in Thabazimbi te bevorder en Verseker sakekamervolhoubaarheid as enjin agter die gedefinieërde prioriteite.
Met meer as 125 goedgekeurde sakekamerlede en verteenwoordiging op verskeie plaaslike owerheid- en gemeenskapsforums (byvoorbeeld Geïntegreerde Ekonomiese Ontwikkelingswerkgroep, Toerisme Forum, Verskaffersforum, Voorsittersforum ens) waar Sakekamer-insette deurgaans gelewer word, voel die Thabazimbi Sakekamer dat ons ‘n waardige voorbeeld vir opkomende sakekamers kan wees oor hoe om uit die wegspringblokke te kom vir langtermynsukses.”
Die Thabazimbi Sakekamer wil veral elke sakekamerlid bedank. Sonder hierdie besighede se ondersteuning sou geen aksie die moeite werd gewees het nie. Hierdie erkenning kom elkeen van u toe.
Skakel Estie Steenkamp (sekretaresse) by 082 328 4586 of Jacques Blaauw (voorsitter) by 083 303 9230 indien u wil inskakel by die Thabazimbi Sakekamer.
Die Sakekamerbestuur, voor van links na regs: Ané Sauermann, Jacques Blaauw (voorsitter) en Bernadine Nel. Agter links na regs: Tokkie Swanepoel, Chris Barkhuizen (tesourier), Gert Oosthuizen, Estie Steenkamp (sekretaresse), Johan Muller, Gys vd Walt, Riana Bekker (ondervoorsitter) en Jaco v Vuuren.