Community

Maak jou stem dik teen gesingeweld

Daar word jaarliks in November op die beskerming van vroue en kinders gefokus wanneer die 16 dae van aktivisme in aanvang neem.

Die SAVF Thabazimbi Maatskaplike Dienste, tesame met die SAPD, gaan op Vrydag 22 November om 10:00 by die NG Kerksaal ‘n selfbeskermingslypskool aanbied om veral dames van die gemeenskap touwys te maak oor selfbeskerming en die “moets en moenies van verkragting”. Kaartjies beloop R20 per persoon en die opbrengs word aan die nuwe provinsiale hospitaal geskenk, waar daar ‘n spesiale kamer ingerig gaan word vir slagoffers van verkragting.

Na afloop van die program sal daar ‘n ligte ete voorsien word. ‘n Sertifikaat sal aan elke persoon wat die opleiding bywoon, oorhandig word.

Program: Moets en moenies van verkragting – adj off Myburg van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe van Thabazimbi SAPD, terapeute beskikbaar in die omgewing – Linda Grobler, verdedigingstegnieke – Peet van Breda, oorhandiging van sertifikate, ‘n ligte ete, dankbetuigings en afsluiting – Linda Grobler.

Kontak die SAVF Thabazimbi by 014 777 1093 of e-pos: savftbz@telkomsa.net vir meer inligting.

Volgens Linda Grobler, senior maatskaplike werker van Thabazimbi SAVF, kan daar gemeld word dat dit kommerwekkend is hoeveel gesinsgeweld daar in Thabazimbi plaasvind. “Substansiemisbruik, soos alkohol en dwelms, speel ‘n groot rol in baie van die situasies. Dit is ook opvallend om te sien hoeveel van die gesinne nie meer kerk toe gaan nie,” sê Grobler.

Volgens Grobler is liefde, respek, vertroue en die waardes in godsdiens baie belangrike boustene in gesinsversorging, wat nie vervang kan word deur nét te fokus op die fisiese versorging van ‘n gesin deur middel van ‘n salaris of inkomste nie. “Dit is wanneer ons fokus verloor van dit wat ons rol en verantwoordelikheid in die gesin is, dat gesinne verbrokkel. Die druk van stres op die moderne samelewing en die verwagtings om by te hou met die beeld van ‘n goeie finansiële lewenstandaard, dra ook daartoe by dat persone langer ure by die werk deurbring en vervreem raak van hul eie gesinne en gevolglik dan telkemaal ontvlugting soek in ander middele, ten einde te probeer byhou of ontspan. Dit dra dan ook by tot ekstra frustrasies en woede wat gesinskonflik kan omsit in gesingeweld en vererger sal word deur die substansmisbruik, selfs wanneer ‘n persoon onder die invloed verkeer.”

Volgens Grobler is tyd saam met ons gesinne die kosbaarste geskenk wat jy kan gee of ontvang. Tyd is iets wat vir altyd verby is wanneer jy dit spandeer het, maar dit kan verhoudings vorm en vestig en sekuriteit en veiligheid tot gevolg hê – iets wat so belangrik is in ‘n gesin.

Die 16 dae van aktivisme teen geweld is ’n inisiatief wat regoor die wêreld in die tydperk tussen 25 November en 10 Desember gevier word. Suid-Afrika het 1999 by die veldtog aangesluit, maar die oorspronklike veldtog is in 1991 deur die Centre for Women’s Global Leadership in New Jersey begin. Die veldtog benadruk die felheid van geweld wat veral teen vroue en kinders gepleeg word.

Die 16 dae-veldtog word gebruik om mense bewus te maak van hoe ons samelewing ly as gevolg van geweld. Dit skop af met die internasionale dag teen vrouegeweld en eindig met Internasionale Menseregtedag op 10 Desember. Ander dae wat in hierdie tyd beklemtoon word is Wêreld Vigsdag op 1 Desember, Internasionale Gestremdheidsdag op 3 Desember en International Women Human Rights Defenders Day op 29 November.

Sedert 1991 het ongeveer 1700 organisasies in 130 lande aan die 16-dae veldtog deelgeneem.

Wat is geweld teen vroue? Gesinsgeweld teen vroue en kinders bestaan nie uit enkele gewelddadige uitbarstings nie, maar is eerder ‘n patroon van fisiese-, sielkundige-, seksuele- en ekonomiese geweld.

Die fisiese geweld is alles van ‘n klap in die gesig en seksuele misbruik tot poging tot moord, strafbare manslag en moord. Dit sluit in om haar te stamp, skop, hare te trek, te brand, teen die muur te stoot, uit die venster te gooi, met voorwerpe aan te rand en met wapens te wond.

Sielkundige geweld sluit in isolasie van vriende, familie of ander ondersteunende sosiale netwerke, dreigemente, boeliery en intimidasie, slegsêery, ekonomiese geweld, misbruik van afhanklikheidsituasies, beskadiging van eiendom, dieremishandeling en agtervolging.

Seksuele geweld is ‘n term wat ‘n verskeidenheid misbruike omvat, insluitend verkragting, seksuele dreigemente, molestering en verwante dade van ‘n seksuele aard.

Ekonomiese geweld is die term wat verwys na ongelykheid tot beskikking of beheer van die gesin se finansies.

Rapporteer geweldsmisdade in Thabazimbi en omgewing by adj off Corney Myburgh van die GKS-eenheid by 082 319 9442 of 071 355 0564.