Polisieman rand ongelukslagoffer aan
NORTHAM – ‘n Saak van aanranding word teen ‘n polisieman van Northam ondersoek, nadat hy ‘n beseerde man, wat slegs ‘n motorfietsongeluk wou aanmeld, glo aangerand het.
Bertie Cilliers, bestuurder van Anglo American se Tumela-myn in Amandelbult, het op Saterdagaand, 12 Oktober, op pad na sy huis in Amandelbult met sy motorfiets in twee donkies vasgery. Hy is per ambulans na Peglerae Hospitaal in Rustenburg vervoer en op Sondag 13 Oktober geopereer nadat albei sy hande in die ongeluk gebreek is. Hy was tot Woensdag, 16 Oktober opgeneem.
Alhoewel die polisie inkennis gestel is van die ongeluk, het niemand die toneel besoek nie. ‘n Padongeluk moet binne 24 uur by die naaste polisiekantoor gerapporteer word. Aangesien Cilliers sr in die hospitaal was, het sy seun, Dawid, die ongeluk by die Northam-polisiekantoor gaan rapporteer. Daar is aan hom gesê dat ‘n derde party nie die ongeluk mag aanmeld nie, maar dat die polisie wel ‘n aantekening sal maak dat Cilliers sr dit sou aanmeld wanneer hy uit die hospitaal ontslaan word.
Cilliers sr kon eers Vrydagmiddag, 18 Oktober na die Northam-polisiekantoor gaan. Sy seun het hom vergesel. Volgens Cilliers het die konstabel gesê dit is te laat om die ongeluk te rapporteer en het geweier om hulle te help.
Cilliers sr het die konstabel se naam gevra, maar hy het geweier om dit te gee. Die konstabel se naamplaat was nie sigbaar nie en het hy sy selfoon uitgehaal om ‘n foto van die konstabel te neem. Die konstabel het oor die toonbank gespring en Cilliers sr op die ribbe geslaan. “My hande was in verbande en ek kon my nie verdedig nie. My seun het tussenbeide getree en die konstabel van my probeer afkry, waarna die konstabel sy foon met geweld gegryp het.” Cilliers sr en sy seun het hulle uit die polisiestasie gehaas. “Tydens die voorval was die stasiebevelvoerder teenwoordig en het nie ‘n vinger gelig om ons te help nie,” het Cilliers sr aan Kwêvoël gesê.
Dissiplinêre klagtes, kriminele klagtes en ‘n siviele saak lê vir beide die stasiebevelvoerder en die konstabel voor. Cilliers sr sal eersdaags in kennis gestel word wanneer die uitkenningsparade gehou word.
Cilliers sr was egter instaat om die motorfietsongeluk, vir versekeringsdoeleinde, by die polisiestasie te rapporteer.
Brigadier Hangwani Mulaudzi, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die voorval word intern ondersoek, is onder die aandag van die provinsiale polisiehoof gebring en is na die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat verwys.
Bertie Cilliers is deur ‘n polisiekonstabel by die Northam Polisiekantoor aangerand nadat hy ‘n motorfietsongeluk wou rapporteer.