Flinke optrede red lewens

THABAZIMBI – Sowat dertig lewens is gered deur die flinke optrede van ‘n busdrywer van Thaba Trans, Andrew Moraka wat die bus na veiligheid kon stuur, nadat ‘n aankomende vervoertrok teen die regterkant van die bus verby geskuur het.

Die ongeluk het plaasgevind op Maandagoggend, 21 Oktober 2013 omstreeks 06:00, net verby die Rooikuilspruitbrug toe die aankomende Gautengse vervoertrok na bewering die draai te wyd geneem het en gedeeltelik in die baan van die bus beland het. Gevolglik het die vervoertrok se regterkant teen die regterkant van die bus geskuur.

Moraka het tydens die impak borsbeserings opgedoen en glasstukke in sy oë gekry, maar kon steeds daarin slaag om die bus veilig van die pad af te stuur.

Slegs een passassier het glasstukkies in die oë gekry terwyl die res van die passassiers sonder ernstige beserings die ongelukstoneel verlaat het.

Volgens Thaba Trans se takbestuurder, Laetitia Otto, het hul drywer hom goed van sy taak gekwyt en sterk tans tuis aan. Ten tye van pers is daar nog geen skadeberamings gedoen nie.

‘n Saak van roekelose en nalatige bestuur teen die bestuurder van die Gautengse vervoertrok word ondersoek.

Kwêvoël Nuuskamer: Estie Taljaard estie@kwevoel.co.za

 43-Ongeluk 1

Die drywer van dié bus kon ná die slag steeds daarin slaag om die bus na veiligheid te stuur.