Eerste wenner vir Helpende Hand se entrepreneurskompetisie
CARLETONVILLE – ‘n Boerbokboer, erdwurm- en vetplantjieverkoopsman en beskuitbakker het mekaar die stryd aangesê om as die wenner van Solidariteit Helpende Hand se Entrepreneurskompetisie aangewys te word. Dié kompetisie is ontwikkel om jongmense se entrepreneursingesteldheid te ontwikkel, hul vaardighede op te skerp en om hulle meer oor die besigheidswêreld te leer.
Eddie Pienaar (13), van EHP Bokboerdery, is as die wenner van die kompetisie aangewys. Hy is ‘n graad 7-leerling aan die Laerskool Dagbreek in Carletonville. Hy boer met boerbokke sedert hy vyf jaar oud is. Sy eerste drie bokke het intussen aangegroei tot ‘n sterk kudde van ongeveer 100 boerbokke. Eddie spandeer soveel tyd as moontlik saam met sy bokke en woon selfs op sy eie vandisies by om bokke te koop en te verkoop.
Eddie het ‘n bedrag van R15 000 as prysgeld ontvang om in sy besigheid te belê. Laerskool Dagbreek ontvang ook R15 000 om aan te wend vir entrepreneursontwikkeling in die skool. “Ek is bly,” het ‘n oorblufte Eddie gesê nadat hy as die wenner aangewys is. “Ek gaan die geld spaar om my stoet uit te brei.”
Die tweede prys het gegaan aan Elana Marais van Hoërskool Waterkloof in Pretoria. Die hoofproduk van haar besigheid, Doodle, is tuisgebakte beskuit. Sy het R7 000 vir haar en dieselfde bedrag vir haar skool gewen. Die derde plek behoort aan Johann Schweidler, ‘n graad 10-leerling van die HTS Drostdy in Worcester, wat erdwurms en vetplantjies verkoop. Sy besigheid se naam is Groen Vingers. Hy het R3 000 vir hom en dieselfde bedrag vir sy skool ontvang.
Die drie topdeelnemers is deur die bekende sakevrou, ds. Liesel Krause-Wiid, prof. Michiel Erasmus, van die Universiteit van Pretoria en Johann Smith, van Akademia, beoordeel.
“Volgens ons kriteria het Eddie bo geëindig,” sê Johann Smith. “Wat ons veral beïndruk het, is dat hy sy besigheid baie eenvoudig gehou het en nie allerhande ander tierlantyntjies bygevoeg het nie. Hy weet wat werk en hy hou daarby. “Ek wil voorspel dat hy, voordat hy skool klaarmaak, ? miljoenêr gaan wees.”
Die gehoor – bestaande uit voornemende jong entrepreneurs – het ook die geleentheid gekry om vir hulle gunsteling deelnemer te stem nadat hulle opleiding ontvang het oor hoe ‘n mens so ‘n beoordeling doen. Elana Marais is aangewys as die gehoorgunsteling en kon daarmee ‘n verdere R1 000 by haar wengeld voeg.
Eddie Pienaar wat sy R15000 wentjek ontvang het by Solidariteit.