Prinsloo’s groet Thaba
THABAZIMBI- ‘n Egpaar wat vir die afgelope 31 jaar in Thaba woonagtig was, het op Saterdag 12 Oktober die bosveld verlaat vir ‘n nuwe tuiste in Klerksdorp.
Oom Chris en Marthie Prinsloo, wat met die eerste oogopslag verlief geraak het en mekaar slegs ‘n dag geken het voordat hulle in die huwelik bevestig is, het in 1982 in Thabazimbi aangekom.
Oom Chris het voor sy aftrede nog vir 14 jaar by Yskor se aanleg gewerk terwyl Tannie Marthie ‘n tuisteskepper was.
Hulle verlaat Thabazimbi met ‘n baie swaar hart. Weens gesondheidsprobleme gaan Oom Chris (81) en Tannie Marthie (78) by hul seun, Hennie en sy eggenote, Dina White in Klerksdorp bly.
Hulle bedank Pastoor Enslin van die AGS gemeente en gemeenskap van Thabazimbi wat die afgelope tyd hulle bygestaan het met die oom se siekte. Sonder almal se hulp sou dit vir hulle baie moeilik gewees het om die baie moeilike tyd deur te gaan. Hulle groet ook hul vriende en kennisse en bedank hulle vir die mooi vriendskapsbande wat deur die jare gesmee is.
Thabazimbi groet die egpaar en wens hul alle voorspoed toe vir die toekoms.
Oom Chris en Tannie Marthie Prinsloo verlaat Thabazimbi ná 31 jaar.