Munisipale werksvoertuie op onwettige veiling
THABAZIMBI – Asof dit nie genoeg is dat daar reeds ‘n tekort aan verkeersvoertuie is nie, gaan die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit vandag, Vrydag 25 Oktober om 10:00 ‘n veiling hou om, onder andere, van nóg drie verkeersvoertuie ontslae te raak.
Hierdie veiling, wat volgens sommige raadslede onwettig verklaar moet word aangesien die raad dit nie by die spesiale raadsvergadering op 7 Oktober 2013 goedgekeur het nie, was ten tye van pers, nogsteeds op die tafel.
Bates en gebruikstoerusting soos 15 Isuzu KB bakkies, ‘n C200K Mercedes Benz, 2 Corsa’s (amptelike verkeersvoertuie), ‘n Prado, ‘n watertenk, ‘n vragmotor, ‘n Bell FEL, verskeie kantoortoerusting, rekenaars, skrootmateriaal, selfone, drukkers en ander toerusting word tydens dié veiling, by die munisipale tegniese gebou in Stasieweg te koop aangebied.
Sekere raadslede het tot Donderdag, 24 Oktober nog hard baklei om die veiling te stop. DA-raadslid Bertie Joubert het op Donderdag ‘n brief aan die burgemeester en munisipale bestuurder gerig om hulle daarvan te verwittig dat die raad die veiling nie goedgekeur het nie en het gesê dat hulle weer na die klankopname van die spesiale raadsvergadering moet luister. Daar is wel deur die raadslede opdrag gegee dat hulle nog inligting benodig, alvorens hulle die veiling kan goedkeur. Tot op hede was daar nog geen verdere inligting van die gelyste items verskaf nie.
Volgens die munisipale bestuurder, Ntsoane, sal dit goedkoper wees om vervoer te huur as om die bestaande vloot in stand te hou.
Die voertuie wat op veiling aangebied word, is nog in werkende toestand en sommige het net meer as 200 000 kilometer op die klok, alhoewel oud-burgemeester, Julia Madela se Mercedes Benz 491 000km ver gery het.
Desireé van der Walt, DA koukusleier van die Waterbergstreek, het die DA-raadslede geadviseer om ‘n hofbeveel teen die munisipaliteit te verkry om die veiling stop te sit.
Ten tye van pers sal die veiling steeds plaasvind.
Die vloot munisipale werksvoertuie wat op Vrydag, 25 Oktober, op ‘n openbare veiling te koop aangebied word.