Waar is die water?
THABAZIMBI – Met die somer op hande en temperature wat die kwikpunt tot in die lae veertigs laat styg, is waterskaarste die laaste ding waarmee inwoners hulself oor wil bemoei. Thabazimbi se waterprobleme word reeds vir ‘n geruime tyd ervaar, alhoewel sekere uitbreidings dit swaarder voel as ander. Die wipplank watertoevoer is ‘n groot frustrasie en lei tot vele aggressiewe houdings teenoor die munisipaliteit. Maar waar is die water nou regtig? Na wat berig word deur die DA Thabazimbi se Facebookblad op Dinsdag, 15 Oktober, het dit aan die lig gekom dat die dorp tans ‘n massiewe wateronderbreking ervaar. “Alle moontlike pogings sal gemaak word om die watertoevoer weer te herstel. Daar is geen instandhouding wat die wateronderbreking regverdig nie en dus kan daar met geen sekerheid verklaar word hoe lank die onderbreking gaan duur nie. U geduld word hoog op prys gestel en weet dat die DA Thabazimbi-raadslede sal poog om klaarheid oor hierdie saak te bekom.” Mnr Johnny Motaung, waarnemende kommunikasiebeampte en hoof operasionele bestuurder van die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit kon nie daarin slaag om ten tye van pers enige kommentaar te lewer nie.