Community

Strafbare manslag vir Dirk se dood

NYLSTROOM – Meer as drie jaar ná ‘n jong man se dood, het die hof uiteindelik ‘n beslissing gemaak teenoor die persoon wat verantwoordelik daarvoor was.

Dirk Christoffel Johannes Swanepoel (27) is op 18 Junie 2010 oorlede nadat hy by Swartklip tussen ‘n vragmotor en ‘n Land Cruiser beland het. Hy het saam met sy swaer en sy skoonpa, mnre Maree, na die toneel gegaan waar sy skoonpa aan dié vragmotor herstelwerk gedoen het.

Maree (snr), wat die Land Cruiser bestuur het, het die voertuig naby die vragmotor parkeer, sodat hulle met behulp van dié se ligte sekere herstelwerk aan die vragmotor kon doen.

Nadat die herstelwerk voltooi is, het Maree sr die vragmotorbestuurder opdrag gegee om te ry. Toe die vragmotordrywer ry, het die vragmotor die voorste buffer van die Land Cruiser gehak. Dirk was op daardie stadium tussen die Land Cruiser en die trok en was in die proses om in die voertuig te klim. Hy is tragies tussen die Land Cruiser en die vragmotor doodgedruk. Hy het aan veelvuldige inwendige beserings op die toneel beswyk.

Ongeveer sewe maande na die ongeluk is daar met behulp van die provinsiale kommissaris van Limpopo ‘n speurder aangestel wat uiteindelik verklarings bekom het van die mense wat op die toneel was.

Drie jaar en twee maande ná die ongeluk is daar met behulp van die senior staatsaanklaer van Limpopo en die regsverteenwoordiger van die Swanepoel-familie, Jurie Strydom, uiteindelik vordering gemaak. Die vragmotorbestuurder wat beweer dat hy in opdrag van Maree sr. opgetree het en gery het, is skuldig bevind aan strafbare manslag en gevonnis tot R15 000 of vier jaar gevangenisstraf, in geheel opgeskort vir vyf jaar op sekere voorwaardes.

Dirk was agt maande getroud met Shirley, die dogter van Maree sr. Sy het tot dusver nog nie een van die hofverskynings bygewoon nie. Dirk was werksaam by Maxweld and Braze tydens sy afsterwe.

Die senior staatsaanklaer in Nylstroom oorweeg tans vertoë om ook Maree sr. aan te kla vir strafbare manslag, aangesien sy optrede om vir die bestuurder te sê om te ry voordat hy seker gemaak het dat die Land Cruiser op ‘n veilige afstand van die vragmotor was, eweneens nalatig was. ‘n Beslissing word tans afgewag.

 

Dirk Swanep38-Dirk Swanepoeloel (27) het tragies gesterf nadat hy tussen ‘n vragmotor en Land Cruiser doodgedruk is.