HFM digter verwerf silwer

THABAZIMBI – Hester Erasmus, ‘n leerder verbonde aan HFM het aan die Afrikaanse-ekspo deelgeneem. Sy het tot die Nasionale rondte deurgedring waar sy ‘n silwer sertifikaat vir haar gedig “Aan my vriendin” verwerf het. Die doel van die kompetisie is om aan leerders die geleentheid te bied om in en deur Afrikaans ‘n spesiale en kreatiewe taalervaring te beleef. Beoordeling van inskrywings wat gedigte, opstelle, liedjies en kortverhale ingesluit het, vind plaaslik en provinsiaal plaas. Om deur te dring na die volgende rondte moet ‘n skryfstuk 75% of hoër behaal.

 

Hester se gedig “Aan my vriendin”:

Die mielies staan hoog, die

blare groen

Die son maak bollemakiesies

op ‘n vroeë somersoggend

‘n Ligte motreën slaan toe

Die wind waai op die ritme

van my foon se deuntjie

Ek antwoord.

‘n Dronk bestuurder het hy gesê

Hy’t gesê jy’s weg, weg

verewig

Soos mis voor die son,

só het jy verdwyn.

Die dae word lank, die nagte langer –

sonder jou.

Jou glimlag was soos ‘n

sonstraal: skynend op ‘n koue

wintersoggend

Jou liefde bly vasgeanker

in my hart, die gedagte aan jou

in my drome

Te wyte aan jou, my smart

Die tyd was te min.

Die mielies staan laag, die blare

vaal, wolke donker

Die gesuis van die vallende

water uit die hemel is

oorverdowend

Die wind huil op die ritme van die

stilte.

Soos mis voor die son,

só het jy verdwyn …

40-HFM Hester Erasmus