NG Kerk Koedoeskop hou Bosavontuur
Deur Ida Gräbe
KOEDOESKOP – Op die plaas Seringhoek, tussen Thabazimbi en Koedoeskop, het die bos die afgelope naweek gegons van die bedrywigheid. Met ’n skilderagtige klipkoppie waarteen die eerste papiervalsdorings groen kolle verf as agtergrond, het die NG gemeente Koedoeskop hul jaarlikse Bosavontuur aangebied. Daar was aktiwiteite vir oud en jonk en die tafels het gekreun van gebak, basaarpoeding, pannekoek, vetkoek, kaiings, wors en pap en vele meer.
Van die aktiwiteite was bokdrolspoeg, hier word dit goed gedemonstreer.
Hierdie kerkbasaar verskil van alle ander. Besoekers het reeds op Vrydag 27 Oktober aangekom met ekowaentjies, woonwaens en tente en op die terrein wat die eienaar, Basie de Beer, al agtien maande lank ontwikkel nesgeskrop. Ablusiegeriewe en krag was op die ruim kampterrein beskikbaar.
In die tente teen die koppie het die gemeentevroue die handwerk en gebak begin uitpak en die flukse pannekoekspan van Rooiberg het met hul panne gereed gestaan. Onder ’n reuseafdak het rye garsbale reeds in rye uitgepak gestaan om die gehoor te ontvang wat dwarsdeur die naweek sou luister na die vrolike musiek van Kromdraai se Bosveld Stralers onder leiding van Jan Delport en die kwinkslae van die seremoniemeester, Stoney Steenekamp, wat ook die begin van die verskillende aktiwiteite en kompetisies aangekondig het.
Die aktiwiteite wat aan deelgeneem kon word, was kleiduifskiet en wildritte, toutrek- en bosski-kompetisies. Mans en dames kon hul talente vertoon met skyfskiet en koedoebolspoeg. En vir die jeug was daar Saterdagoggend. 28 September, die geleentheid om met deegklei en enigiets uit die natuur hul kreatiwiteit te oefen met die saamstel van ’n collage. Die pryswenners in hierdie kompetisie was Dewan Snyman, Janré, Sheldon van Zyl en sy boetie Dylan van Zyl. In die potjiekoskompetisie vir die jeug het Natassja, kleinkind van Basie en Adri, die louere weggedra. Daar was ook stalletjies met juwele, vleis, biltong en ds Thys Lourens van Rooiberg se pragtige houtspeelgoed.
Die manne is amper op hulle hurke, maar trek sal hulle trek.
Saans, wanneer die son bloedrooi anderkant die Krokodilrivier wegsak, het die spitbraai gesis en die tafels het gekreun van die keurige bykosse. Die besoekers was dit almal eens dat R50 vir ’n gelaaide bord plus nagereg billik verby was. Nuwe vriendskappe is gesmee en groot eensgesindheid is bereik, veral Saterdagmiddag voor die grootskerm-TV tydens die rugby-uitsending.
’n Hoogtepunt van die naweek was die optrede van Dozi voor ’n baie waarderende gehoor. Vriende, teken sommer nou al die laaste naweek van September 2014 in jul dagboeke aan en kom deel in die pret. Die jaarlikse Koedoeskop Bosavontuur is ’n geleentheid wat julle nie weer wil misloop nie.
(Foto’s deur Lienkie Lombard en Petru Gräbe)