Musiek vir die Agtergrond by KunsteGrot
THABAZIMBI – Die volgende film wat by die Super KunsteGrot vertoon gaan word, is Musiek vir die Agtergrond.
Dit word 11 Oktober vrygestel en is dan feitlik dadelik by die Super KunsteGrot op 18 en 19 Oktober. Terselfdertyd is daar ‘n Kunsuitstalling deur die bekende Gerrit Pitout. Rig alle navrae aan Rita by 083 7448559 / rivol@telkomsa.net.
Die vervaardigers van die bekroonde films Roepman en Verraaiers se nuwe film, Musiek vir die agtergrond is pas voltooi. Dit vertel die verhaal van ‘n talentvolle musikant en liedjieskrywer, Paul van der Merwe (John-Henry Opperman), wat voor ‘n groot kruispad in sy lewe te staan kom. Onder die mentorskap van Chris (Ian Roberts) het Paul sy loopbaan stelselmatig opgebou deur sy eie musiek in kroeë te speel. Dit is egter ‘n hand-tot-mond bestaan en Paul en sy meisie, Sera (Lizelle de Klerk), sukkel om kop bo water te hou. ‘n Belangrike musiekvervaardiger (Brumilda van Rensburg) sien Paul raak en bied aan hom ‘n geleentheid om vinnige roem en faam te verwerf. Die kontrak vereis egter dat hy kommersiële musiek moet sing en onder ‘n nuwe identiteit optree. Paul moet dus besluit of hy bereid is om sy siel te verkoop vir finansiële stabiliteit.
Sallas de Jager, draaiboekskrywer en regisseur van Musiek vir die Agtergrond, beskryf dit as ‘n reuse voorreg om in sy eerste film in die reggiseurstoel te kon saamwerk met legendes soos Ian Roberts, Brumilda van Rensburg, Neil Sandilands en Terence Bridgett. Hy is ook vol lof vir die indrukwekkende vertolkings van die twee hoofrolle deur John-Henry Opperman en Lizelle de Klerk.
“Dit was ‘n lekker uitdaging om ná Verraaiers en Roepman ‘n hedendaagse verhaal te vertel en alhoewel dit ook ‘n drama is, kan gehore uitsien na skreeusnaakse tong-in-die-kies oomblikke.”
Die musiek sluit ook van die beste Suid-Afrikaanse kontemporêre liedjies in. Karen Zoid, Die Tuin Dwergies, Die Melktert Kommissie, Klopjag, Jan Blohm, Jack Parrow en Fokofpolisiekar se musiek word baie suksesvol gebruik om die storie te vertel.
Bosbok Ses Films, soos met hul vorige films, bring weer aan Suid-Afrikaanse gehore ‘n gehalte film wat die grense gaan verskuif. Die bekende resensent, Leon van Nierop, beskryf Brumilda van Rensburg se vertolking van Lucy as van die beste spel in haar lang suksesvolle loopbaan en Lizelle de Klerk en John-Henry Opperman is by die onlangse KykNet Silwerskermfees bekroon vir hul uitstaande vertolkings van Sera en Paul in Musiek vir die Agtergrond.
Kaartjies beloop R50 per volwassene en R40 per kind en per senior. Besprekings kan ook gedoen word by Rita 083 744 8559 of kaartjies kan by die deure gekoop word.
Musiek vir die Agtergrond word op Vrydag 18 Oktober om 18:30 en Saterdag 19 Oktober om 11:00 te Super KunsteGrot vertoon.