Community

Wildboerdery meer ekonomies as enige ander boerdery

Ems Strydom

 

DWAALBOOM – Die Wildboer van die Jaar, George Potgieter, het die boere, tydens verlede naweek se Oesfees meer ingelig oor wildboerdery.

Hy het gesê dat met die grondpryse wat so duur is, veroorsaak dit dat boere nie meer winsgewind kan boer nie, maar dat wildboerdery nou die enigste manier is waarop mens nog steeds ekonomies kan boer, veral met skaars wildsoorte. Dwaalboom, waar bosverdigting so oorgeneem het, bied die ideale geleentheid om met wild te boer.

Op ‘n klein stukkie grond kan boere dus alreeds ekonomies met wild boer, as met enige ander boerdery en wildboerdery neem toe, dat baie mense slegs klein stukkies grond kan bekostig. Baie meer mense droom deesdae van ‘n klein stukkie grond met wild op. Die dae is verby dat mense gedroom het van ‘n huisie by die see, drome het verander na ‘n plasie in die Bosveld.

Gedurende 2003 was die omset van wildboerdery R62 miljoen en in 2012 was dit R864 miljoen. Wildsoorte, soos die swartwitpens, se getalle het in die Krugerwildtuin vanaf 1982 gekrimp van 1906 diere na ‘n skrale 325 gedurende 2012 en bastergemsbokke van 350 na slegs 50.

Indien wildboere dus nie toegetree het nie, sou die spesies alreeds byna totaal uitgewis gewees het. Bewaring van Suid-Afrika se skaars wildspesies rus vandag op die boer se skouers en nie meer in die hande van die regering nie.

Wildboere moet ook nie meer toelaat dat trofeëjagters die beste bulle en ramme met die langste horings, uitskiet nie, want dit veroorsaak dat die beste gene van wild tot niet gaan.

Selfs koedoes en rooibokke, wat in die verlede deur biltongjagters uitgeskiet is omdat hulle so volop was, se pryse styg. Indien daar gene in jou diere is wat groter diere met groter horings het, moet mens die diere bewaar vir die nageslag. Al het jou klein plase dus net die twee soorte wild op, kan jy dit omskep tot ‘n baie ekonomiese boerdery, mits dit die regte gene dra.

Lande soos Kenia het alreeds gedurende 1977 alle jag gestop en ander lande soos Botswana en Zambië het ook alreeds ‘n moratorium op jag van alle skaars wildsoorte geplaas.

Hy het afgesluit deur te sê dat baie mense bang is dat die borrel met duur pryse een of ander tyd gaan bars, maar as jou gene in die diere reg is, sal wildpryse nogsteeds styg, want almal streef na beter gene en wildboerdery neem toe, weens die aanvraag na wild.

38-Dwaalboom Oesfees (2)

George Potgieter, Wildboer van die Jaar, het ‘n praatjie gelewer tydens die prystoekenning van die “Boer van die Jaar”-geleentheid.